My werkgewer is besig met afleggings, en het vir my ʼn alternatiewe pos aangebied teen dieselfde vergoeding. Ek het gehoor dat indien ek die alternatiewe pos onredelik weier kan ek moontlik my afleggingspakket verloor. Ek wil graag weet wat is my regsposisie in hierdie geval?
Artikel 41 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (voortaan verwys na as “die Wet”) bepaal dat ʼn werknemer wat afgelê word, geregtig is op een week se salaris vir elke voltooide jaar se diens. Verder bepaal dit ook die volgende: “An employee who unreasonably refuses to accept the employer’s offer of alternative employment with that employer or any other employer, is not entitled to severance pay”.
Dit is dus duidelik dat die Wet voorsiening maak vir ʼn geval waar ʼn werknemer wat weier om ʼn alternatiewe pos tydens ʼn afleggingsproses te aanvaar, sy pakket kwyt kan wees. Die kwessie is of daardie werknemer ‘onredelik’ die alternatiewe pos geweier het, want dit sal bepaal of hy of sy geregtig is op die betaling van ʼn pakket.
Die Arbeidsappèlhof het in die saak van Astrapak Manufacturing Holdings (Pty) Ltd t/a East Rand Plastics v Chemical, Energy, Paper, Printing, Wood and Allied Workers Union [2013] 12 BLLR 1194 (LAC) gekyk na dié netelige kwessie. In hierdie saak wou die werkgewer kostes bespaar en het hy aangedui dit gaan die skofte patroon so verander dat daar nie meer oortyd gewerk sou word nie. ʼn Groot groep werknemers was nie hiervoor te vinde nie en as gevolg van hulle ongelukkigheid het hul vakbond met protes aksie begin. Die werkgewer het toe met ʼn afleggingsproses begin om die nuwe skof patroon af te dwing. Die werknemers wat die skof patroon aanvaar het, het hul werke behou terwyl die werknemers wat geweier het afgelê was.
Die impak wat die skof patroon op die groep afgedankte werknemers sou gehad het, was dat 126 van hulle steeds dieselfde basiese salaris sou verdien; dat 34 van hul se salarisse gesny sou word tussen 1,19% tot 3,65%; en dat 6 van hulle salarisse met meer as 30% gesny sou word.
Die vakbond het die arbeidshof genader toe die werkgewer die werknemers afgelê het, sonder om vir hul pakkette uit te betaal en het aangedui dat die weiering om die alternatief tot aflegging te aanvaar billik was omdat die werknemers afhanklik was van die oortydbetaling. Die arbeidshof het vir die werknemers gelyk gegee.
Die werkgewer het die saak van die arbeidshof op appel verwys na die Arbeidsappèlhof. Hiérdie hof het die volgende bevestig: “An employee, who rejects an employer’s offer of reasonable employment for no sound reason cannot then claim severance pay. If an employer such as the appellant offers an increased amount or, at the very least, the same amount, viewed within the context of the specific conditions of employment that cannot on any reasonable basis be taken as more onerous than that which existed prior to the retrenchment exercise, and if an employee refuses to accept such an offer, that refusal is then unreasonable.”
Die hof het bevind dat die 173 werknemers wie se alternatiewe aanbod sou veroorsaak het dat hul basiese salarisse meer sou wees as vóór die afleggingsproses, of wie se salarisse dieselfde sou bly, het onbillik geweier om ʼn alternatiewe pos te aanvaar en was nie geregtig op ʼn pakket nie.
Ten opsigte van die restant van die werknemers wie se salarisse sou verlaag het met tussen 1% tot 30%, het die hof bevind dat sekere van hierdie werknemers tog nie hul pakkette kwyt moes wees nie. In hierdie verband het die hof die volgende gestel: “Although it is difficult to demarcate precisely when the offer can be refused by an employee without the danger of section 41(4) of the BCEA being invoked against him or her, in my view, once an employee is faced with a wage decrease, it cannot be said that he or she should not have the choice of refusing the offer and seeking employment elsewhere, notwithstanding the extremely difficult conditions which pertain to employment in general within the South African economy.”
Dit is dus uit hierdie saak duidelik dat indien ʼn werknemer ʼn alternatief tot aflegging, teen dieselfde of ʼn verhoogde salaris, gebied word en hy of sy daardie alternatiewe pos weier, loop hy of sy die risiko dat hulle nie ʼn afleggingspakket sal ontvang nie.
Outeur: Mynie Kriek
Oops! We could not locate your form.