Aftrede: Gelyktydige eise ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge en die Wet op Gelyke Indiensneming
Normaalweg word net een eis toegelaat ingevolge ʼn spesifieke eisoorsaak en/of handeling, maar in hierdie artikel bespreek ons die uitsonderlike geval waar ʼn werknemer ʼn gelyktydige eis in die geval van ʼn spesifieke ontslagdispuut kan instel.
Volgens artikel 187(1)(f) van die Wet op Arbeidsverhoudinge (WAV) is ʼn ontslag outomaties onbillik indien die werkgewer se rede vir ontslag direk of indirek onbillik teen ʼn werknemer diskrimineer op grond van een van een van die gelyste gronde, onder meer ouderdom.
In die arbeidshof saak van Evans v Japanese School of Johannesburg [2006] 12 BLLR 1146 (LC) het die werkgewer ʼn werknemer se diens op 61-jarige ouderdom beëindig op grond van hul bewering dat sy op die ouderdom van 60 reeds aftreeouderdom bereik het. Die werknemer was aanvanklik sonder ʼn skriftelike kontrak aangestel en sonder dat ʼn spesifieke aftreeouderdom ooreengekom is. Die werkgewer het egter later begin om die werknemer jaarliks op ʼn vastetermynkontrak aan te stel. Daar was ook geen aftreebeleid nie en ander werknemers wat ook ouer as 60 was, was toegelaat om te bly werk. Daar was absoluut geen fout met die betrokke werknemer se prestasie by die werk nie.
Die werkgewer het hulle nie van hulle bewyslas, dat die ontslag gebaseer was op grond van ouderdom, gekwyt nie. Die werknemer het ʼn eis van outomatiese onbillike ontslag ingevolge die WAV (soos hierbo genoem) teen die werkgewer ingedien, maar het ook ʼn eis ingevolge die Wet op Gelyke Indiensneming,(Nr. 55 van 1998) (EEA) op grond van direkte onbillike diskriminasie op grond van ouderdom ingedien.
Die hof moes onder meer beslis of die gelyktydige eise sou neerkom op duplisering en of die werknemer albei eise gelyktydig teen die werkgewer kon instel aangesien onbillike diskriminasie op grond van ouderdom ʼn wesenlike deel van albei eisoorsake vorm. Die bepalings van artikel 187(1)(f) WAV is soortgelyk aan artikel 6 van die EEA aangesien dit verwys na dieselfde gronde soos uiteengesit in artikel 6 EEA.
Die hof het beslis dat hoewel dit op duplisering mag neerkom, die WAV ʼn limiet van 24 maande plaas op die kompensasie wat toegestaan mag word, terwyl die EEA nie ʼn limiet op kompensasie plaas nie. Die hof het voortgegaan en 24 maande se vergoeding ingevolge die WAV aan die werknemer toegestaan ten opsigte van outomatiese onbillike ontslag weens onbillike diskriminasie op grond van ouderdom en ʼn verdere bedrag van R200 000 as kompensasie vir onbillike diskriminasie op grond van ouderdom ingevolge artikel 6 saamgelees met artikel 50 van die EEA. ʼn Totale bedrag van R406 668 is aan die werknemer toegestaan, synde R177 144 (Artikel 187(1)(f) WAV), R200 000 (Artikel 6 EEA) en R29 524 (Kennis en toelaag).
Werkgewers moet dus twee keer dink voordat hulle aftreeouderdom ná die tyd eensydig wil vasstel en werknemers verskillend hanteer wat aftreeouderdom betref aangesien die howe regtens meer as bereid is om werknemers wat op dié manier outomaties onbillik ontslaan word, tegemoet te kom en om beskerming aan hulle te bied ingevolge van albei wette.
Die werkgewer moes ook die werknemer se regskoste betaal.
Outeur: Ettienne Pio
Oops! We could not locate your form.