Deur Sanette Viljoen van SV Legal
In ’n onlangse uitspraak het die Grahamstadse hooggeregshof in die Oos-Kaap beslis dat die departement van basiese onderwys onderrig moet voorsien en finansier vir alle ongedokumenteerde kinders, insluitend kinders van onwettige buitelanders.
Volgens skatting sal die uitspraak meer as ’n miljoen ongedokumenteerde kinders se lewens raak, wat toegang tot openbare skole soek of wat gewaarsku is om dokumentasie te verskaf voordat hulle toelating tot ’n skool mag verkry.
Die Centre for Child Law en Phakamisa Highschool in Port Elizabeth het al die uitdagings aangepak om regulasies en wette, wat ongedokumenteerde kinders verhinder om toegang tot basiese onderwys te kry, tersyde te stel.
Regter Selby Mbenenge, regter-president van die Oos-Kaap, het alle gedeeltes van die skool se toelatingsbeleid, wat op enige manier toegang tot ongedokumenteerde kinders belemmer, tersyde gestel. Hy het ook ’n omsendbrief wat in 2016 deur die Oos-Kaapse onderwysdepartement uitgestuur is, ongeldig verklaar. Hierdie brief het ’n waarskuwing uitgestuur dat die departement slegs kinders wat geldige dokumentasie gehad het, sou finansier.
Mbenenge het verder aangevoer dat alle bepalings van die Wet op Immigrasie (No. 13 van 2002) geïnterpreteer moet word om in lyn met die Grondwet te wees. Vervolgens moet die Wet op Immigrasie so gelees word dat die verskaffing van basiese onderwys aan onwettige buitelandse kinders toegelaat moet word.
Regter Irma Schoeman en waarnemende regter SM Mfenyana het saam met regter Mbenenge se bevindinge gestem.
Die saak, wat nasionale gevolge sal hê, het begin toe 37 kinders in die Oos-Kaap toegang tot die skool geweier was, omdat hulle geen geboortesertifikate, studie permitte of paspoorte gehad het nie. Die Centre for Child Law en Phakamisa Highschool in Port Elizabeth was verteenwoordig deur die Legal Resources Centre (LRC) en het die saak suksesvol gedryf. As gevolg van hierdie instellings is die onregverdige beperking op kinders se grondwetlike reg op basiese onderwys tersyde gestel en is hul reg op gelykheid en waardigheid beskerm.
Oops! We could not locate your form.