Deur Sanette Viljoen
Vraag: Ek het onlangs na my huurkontrak gekyk en was verbaas oor hoeveel kere daar verwys word na dae. Dit was ook nie vir my duidelik of hulle verwys na kalenderdae of werkdae nie, of selfs wanneer die verloop van hierdie dae begin nie. Is daar ʼn standaardreël vir hoe dit werk?
Antwoord: Die meeste kontrakte bevat ʼn lys definisies of ʼn interpretasieklousule wat presies vir die partye verduidelik hoe dae, weke of maande bereken moet word en ook wanneer hierdie tydperke begin verloop tot by die sperdatum.
Jou eerste stap sal dus wees om jou kontrak se definisies te gaan lees. Indien jou kontrak nie definisies of ʼn interpretasieklousule bevat nie, maak ons reg voorsiening daarvoor deur middel van riglyne vir interpretasie.
Hierdie riglyne bepaal dat daar eerstens gekyk moet word na die gemeenskaplike bedoeling van die partye, gebaseer op die bewoording. Indien die ware bedoeling van die partye nie vasgestel kan word nie, word daar gebruik gemaak van die “siviele metode” van tydberekening.
Die siviele metode vir interpretasie van dae werk soos volg: Die dag waarop die periode begin verloop, word ingesluit en die laaste dag word uitgesluit, tensy daar spesiale omstandighede is wat ʼn afwyking van hierdie reël regverdig.
Dis baie belangrik om te oorweeg hoe die definisie van ʼn tydperiode bewoord word. Word die voorgeskrewe optrede vereis voor of na die periode, of kan dit enige tyd gedurende die periode wees? Byvoorbeeld: Indien die huurkontrak stipuleer dat ʼn kennisgewing van verlenging in die laaste maand van die huur periode gegee moet word, kan hierdie kennisgewing te eniger tyd gedurende die laaste maand gegee word en nie noodwendig op die eerste of laaste dag van die maand nie.
Oops! We could not locate your form.