Deur Sanette Viljoen
Gegewe die ernstige gevolge wat Covid-19 op die Suid-Afrikaanse gemeenskap gehad het, die inperkregulasies wat die regering ingestel het en ook die ontvangs van die eerste vaksien is dit te verstane dat die gemeenskap bekommerd is oor die toediening van hierdie vaksien.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het in ʼn mediaverklaring aan die begin van Februarie 2021 aangevoer dat Solidariteit oorval is met navrae oor verpligte inenting in die werkplek. Na aanleiding hiervan het Solidariteit ʼn omvattende regsmening van eksterne advokate bekom om die vraag oor verpligte inenting te beantwoord. Onder hierdie advokate was advokaat Kemp van die Brooklyn Advokatekamers.
Die regsmening kyk na wetgewing en verskeie regsprake en regulasies, onder andere die Grondwet, Wet op Basiese Diensvoorwaardes, Wet op Arbeidsverhoudinge, Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, en vele meerr.
Ons huidige regsraamwerk maak geen spesifieke voorsiening vir verpligte mediese ingryping soos inenting teen siektes nie. Ons reg verplig egter elke werkgewer om ʼn veilige werkomgewing te skep vir sy werknemers. Die definisie van ʼn “veilige” werkomgewing sal egter afhang van verskeie omgewingsaspekte van die werkplek en sal in elke geval verskil, maar sal insluit die kwesbaarheid van die werknemers en ook die aard van hul interaksie met persone buite die werkplek. Konsultasie met werknemers oor die beplande inentings moet egter steeds plaasvind en is deel van die nakomingsproses.
Daar is aan die ander kant gekyk na ʼn werknemer se konstitusionele reg op ligaamlike integriteit. Hierdie reg dra baie krag, maar sal moeilik buite die hof bevestig word. Verder word werknemers beskerm teen onbillike ontslag op grond van diskriminasie op grond van godsdiens en politieke oortuiging.
Die regsmening wat ingewin is,is egter duidelik dat werkgewers in die groot meerderheid van gevalle steeds ’n “veilige” werkomgewing sal kan skep ter voldoening aan die vereistes van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid sonder om inenting verpligtend te maak. Volgens advokaat Kemp is dit dus uiters onwaarskynlik dat ʼn werkgewer wettig eensydig verpligte inenting van sy werknemers kan vereis.
Advokaat Kemp is van mening dat dit egter moontlik kan wees om ʼn hof te oortuig dat inenting vir die duur van die Covid-19-pandemie ʼn “inherente vereiste” is vir sekere soorte werk, veral vir gesondheidsorg en gesondheidswerkers. In die afwesigheid van staatsgebaseerde beleid en/of wetgewing in hierdie verband, word werkgewers aangeraai om met werknemers te konsulteer voordat stappe gedoen word.
Die regsmening het dit duidelik gemaak dat enige eensydige besluit om inenting verpligtend in die werkplek te maak, nie in ʼn hof sal steek hou nie en onwettig sal wees. Terwyl sommige voorstanders van verpligte werkplekinenting graag aanvoer dat die werkgewer ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid sodanige reg het, skryf die wet egter voor dat daar ʼn behoorlike konsultasieproses met ʼn werknemer moet wees en dat alle moontlike remedies eers uitgeput moet word alvorens ʼn werkgewer drastiese stappe mag oorweeg.
Volgens dr. Hermann sal dit “eenvoudig onwettig wees vir ʼn werkgewer om ʼn werknemer te verplig om ingeënt te word, en daar kan selfs geargumenteer word dat dit strafregtelik en grondwetlik inbreuk maak op elke individu se persoonlike reg tot liggaamlike integriteit.”
Oops! We could not locate your form.