Deur Sanette Viljoen
Daar is spoedkameras langs die meeste van die Suid-Afrika se hoofpaaie. Dagvaardings vir spoedoortredings volgens hierdie kameras word gewoonlik per pos aan die oortreder gestuur. Die vraag wat egter gevra word, is hoe lank nadat jy deur ʼn spoedkamera betrap is, kan die dagvaarding nog op jou beteken word?
Ingevolge die algemene beginsels in die Strafproseswet (Wet 32 van 1944) is verkeersake in ons reg aan dieselfde verjaringstermyne as gemeenregtelike misdrywe onderworpe. Die kantoor van die direkteur van openbare vervolging het egter verskeie nasionale forums, waar daar tegniese komitees is wat riglyne opstel waarvolgens wetstoepassing en die daaropvolgende vervolging van elke tipe oortreding gehanteer word. Hierdie riglyne bepaal dus wetstoepassing en vervolging van elke misdaad en kan selfs verskil van provinsie tot provinsie.
Die bogenoemde vervolgingsgesag het praktiese riglyne wat verkeersake anders hanteer as ander oortredings, met ander woorde, die werklike wetstoepassing in die geval van verkeersake.
In alle sake waar die oortreding by wyse van ʼn kamera opgeneem is, moet die dagvaarding binne 18 maande op die geregistreerde eienaar of die bestuurder van die voertuig beteken word; indien dit nie gebeur nie, verval daardie boete. Daar is wel sekere provinsies waar die wetstoepassers nog korter tydperke vasgestel het.
Nieteenstaande die verjaringstermyn ingevolge die Strafproseswet verval hierdie tipes boetes dus na 18 maande as die dagvaarding nie beteken is nie .
Oops! We could not locate your form.