Deur Sanette Viljoen
Onlangs is ’n saak aangehoor waar die prokureurs wat vir ’n voormalige hoë-profiel politikus opgetree het, vir ’n derde keer onsuksesvol was toe hulle probeer het om ’n bevel vir onderhoud te laat wysig. Dit was ’n bevel in terme waarvan die politikus R95 000.00 vir tussentydse onderhoud aan sy voormalige eggenoot moes betaal.
Sy prokureurs het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen hierdie onderhoudsbevel en dit is van die hand gewys met strafkoste teen die prokureurs. Die hof het duidelik bevind dat die politikus se prokureurs gestraf moes word omdat hierdie aansoek geen kans vir sukses gehad het nie en nooit voor die hof gebring moes gewees het nie.
Die aanvanklike onderhoudsbevel is uitgereik kragtens reël 43 van die Hooggeregshof. Hierdie reël het betrekking op tussentydse onderhoud. Die bevel is uitgereik nadat die hof die afgetrede politikus se bankstate nagegaan het.
Die politikus wou nou hierdie onderhoudsbevel van R95 000.00 laat wysig na ’n verminderde bedrag. Hy het aangevoer dat hy slegs ’n pensioen van R145 000.00 per maand ontvang en dat hy onder andere ’n verband van R66 000.00 uit daardie inkomste moes betaal en ook ander familielede moes onderhou. Hy het dus beweer dat hy slegs R20 000.00 beskikbaar het om aan sy voormalige eggenoot as onderhoud te betaal, in plaas van die bevel van R95 000.00.
Wat belangrik is om op te let is dat daar nie teen Reël 43-aansoeke vir tussentydse onderhoud geappelleer kan word nie. Dit kan slegs gewysig word waar daar ’n wesenlike verandering is in die finansiële posisie van die onderhoudpligtige is en die bewyslas is dan op die persoon wat dit beweer.
Ongeag hierdie baie duidelike reëls wat almal ken, het die prokureurs aansoek gedoen om die wysiging van die onderhoudsbevel. Die Regter het geweier om die aansoek aan te hoor en het aangevoer dat die aansoek beslis nie dringend was nie. Verder het dit geblyk ’n aansoek te wees om teen die Reël 43-beslissing te appelleer en dit is nie toelaatbaar nie.
Die prokureurs wat namens die politikus opgetree het, het weer na ’n volbank regters in die Hoogste hof van appèl aansoek gedoen vir verlof om te appelleer. Volgens hierdie hof is Reël 43-aansoeke juis daargestel om vinnige en goedkoop oplossings te verskaf, hoofsaaklik tot voordeel van die vrou en kinders wat dringend tussentydse behoeftes het. Reël 43 is dus ’n goedkoop oplossing om hulle behulpsaam te wees om, hangende die moontlik lang uitgerekte egskeidingsaak, intussen vir die vrou en kinders onderhoud te bied. Die feit dat appèl nie daarteen gebring mag word nie, is juis om vertragings en onnodige kostes te bespaar en om dan appèl toe te laat, sal die hele doel van hierdie reël verydel.
Oops! We could not locate your form.