Deur: Sanette Viljoen
Verkopers van eiendomme streef daarna om die hoogste prys in die kortste tyd te kry. In praktyk word meeste eiendomme verkoop onderworpe aan ’n opskortende voorwaarde wat stipuleer dat die koop van die eiendom gekanselleer sal word indien, byvoorbeeld, die koper se banklening nie binne 14 dae goedgekeur word nie.
Wat gebeur as ’n kontantkoper of ’n bankgoedgekeurde koper binne hierdie 14 dae opdaag? Of indien jy dalk ’n koper kry wat ’n hoër aanbod maak? Hierdie kopers mag dan nie die eiendom koop nie, as gevolg van bogenoemde opskortende voorwaarde. Hierdie situasie plaas baie stres op die verkoper, aangesien hy hom bekommer dat die potensiële kopers nou sal aanbeweeg na ’n ander beskikbare eiendom; indien die huidige koper se lening afgekeur word, sit die verkoper in sak en as.
Die oplossing vir bogenoemde dilemma word gevind in ’n 72-uur-klousule. Deur so ’n klousule in die koopkontrak in te sluit verminder jy die risiko om ’n onvoorwaardelike kontantkoper te verloor. Hierdie klousule beskerm die belange van die verkoper omdat hy of sy mag voortgaan om die eiendom te bemark tydens die dikwels uitgerekte, onsekere tydperk waarin daar op goedkeuring van die verband gewag word. Sou die verkoper dan ʼn beter aanbod ontvang (in die vorm van ʼn kontantkoper of ʼn hoër koopprys), word die 72-uur-klousule geaktiveer, ingevolge waarvan die eerste koper 72 uur gegun word om ʼn gelykstaande aanbod aan die verkoper te maak. Indien die eerste koper dit nie kan doen nie, val die eerste ooreenkoms weg en die verkoper mag nou voortgaan om ʼn kontrak met die tweede koper te sluit.
Hoewel ʼn 72-uur-toekenning die praktyk is, is daar niks wat die partye verhoed om op ʼn ander tydperk ooreen te kom nie.
Oops! We could not locate your form.