Sanette Viljoen
Emansipasie word dikwels verkeerd verstaan. Daar word verstaan dat emansipasie van ʼn minderjarige ʼn meerderjarige maak. Dit is egter nie die geval nie. In hierdie artikel gaan daar gepoog word om die aard van emansipasie te verduidelik.
Emansipasie is nie iets wat ʼn minderjarige tot voordeel strek nie. Hier is ’n kort voorbeeld: M word vir kontrakbreuk aangespreek. Hy werp die verweer op dat hy minderjarig is en sonder ouerlike toestemming opgetree het. Die teenkant voer aan dat hy as ʼn geëmansipeerde opgetree het en aan die kontrak gebonde gehou moet word, al het hy nie ouerlike toestemming gehad nie.
Emansipasie is in wese ʼn feitevraag en die belangrikste feit is of die minderjarige ouerlike toestemming gehad het om die betrokke kontrak te sluit. Ouerlike toestemming kan uitdruklik of stilswyend plaasvind. Indien die minderjarige ouerlike toestemming gehad het, word hy vir die doeleindes van daardie kontrak as ʼn geëmansipeerde minderjarige beskou. Die toestemming kan uitdruklik of stilswyend gegee word en dit moet daarop wys dat die minderjarige vir sy eie rekening aan die kommersiële aktiwiteit deelneem.
Benewens ouerlike toestemming, was eie verblyf en ʼn beroep vereistes in die Suid-Afrikaanse reg, maar later is aanvaar dat om ʼn salaris te verdien genoeg is al het die minderjarige nie ʼn beroep nie. Daar is ook selfs later afstand gedoen van die vereiste van eie verblyf.
Die posisie vandag is dat emansipasie ʼn feitevraag is wat die hof sal beantwoord nadat hy die omstandighede van elke saak bekyk het. Die faktore wat die hof wel in aanmerking neem om hierdie feitevraag te beantwoord, sluit in:
Aangesien die vraag of ʼn minderjarige geëmansipeerd is ʼn feitevraag is, moet alle relevante faktore voor die hof gelê word om ʼn geheelbeeld te kry.
Emansipasie verleen nie aan die minderjarige die status van ʼn meerderjarige nie en dit kan selfs deur die ouer of voog teruggetrek word. Omdat ouerlike toestemming teruggetrek kan word, kan daar nie gesê word dat emansipasie aan die minderjarige locus standi in iudicio (verskyningsbevoegdheid) verleen nie, selfs nie eens met kontrakte wat binne die bestek van emansipasie val nie. Emansipasie verleen ook nie aan die minderjarige die bevoegdheid om sonder ouerlike toestemming in die huwelik te tree nie of om onroerende eiendom te vervreem of te beswaar nie.
Oops! We could not locate your form.