Om geldig te wees, moet ʼn dissiplinêre verhoor aan sekere vereistes voldoen. Dié vereistes word in hierdie artikel bespreek.
Die datum, tyd en plek van die dissiplinêre verhoor moet skriftelik aan die werknemer deurgegee word. Die werknemer moet dan ʼn redelike tyd gegee word om vir die verhoor te kan voorberei. Wat as ʼn redelike tyd geld, sal bepaal word deur die omvang en erns van die klag of klagte in ag te neem. Indien daar nie uitsonderlike omstandighede is nie, behoort ʼn kennistydperk van drie dae voldoende te wees.
Die klag of klagte moet behoorlik uiteengesit word in die kennisgewing wat aan die werknemer gegee word sodat dit hom in staat stel om behoorlik te kan voorberei om homself te verdedig en op die klagte teen hom te antwoord.
Die volgende partye moet by ʼn verhoor betrokke wees: ʼn voorsittende beampte, die klaer, die werknemer (respondent) en ʼn tolk (indien nodig). Die klaer en die werknemer is ook geregtig om getuies te roep om hul saak te versterk. Die respondent kan deur ʼn medewerknemer na die verhoor vergesel word om hom te verteenwoordig. Regsverteenwoordiging word oor die algemeen nie by ʼn dissiplinêre verhoor toegelaat nie. Die werknemer se regsverteenwoordiger kan wel ʼn aansoek bring om sy kliënt te verteenwoordig en indien die voorsittende beampte dit toelaat, kan die verhoor voortgaan met regsverteenwoordiging.
Die voorsittende beampte moet objektief en onpartydig wees en mag nie voorafkennis van die aangeleentheid dra nie. Daar moet verder rekord gehou word van die verhoor en ʼn volledige skriftelike rekord moet gehou word. Indien geen een van die partye ʼn beswaar het nie, kan die verrigtinge ook elektronies opgeneem word.
Die klag of klagte word dan aan die werknemer gestel en hy word die geleentheid gegee om skuldig of onskuldig daarop te pleit. Die verhoor sal dan onder toesig van die voorsittende beampte voortgaan.
Ná afloop van die verhoor sal die voorsittende beampte sy bevinding aan die partye deurgee en die partye in kennis stel dat die KVBA genader kan word indien die werknemer meen die uitkoms was nie regverdig nie.
Outeur: Dems Nel