In ’n diverse land met 11 amptelike tale gaan daar sonder twyfel situasies ontstaan waar partye in die werkplek mekaar nie kan verstaan nie as gevolg van taalgrense. Ingevolge Bylae 8: item 4 van die Wet op Arbeidsverhoudinge (No. 66 van 1995) moet ’n werknemer ’n billike kans gegun word om hul saak tydens dissiplinêre prosedures te stel. Daarom is dit tot die beskikking van werknemers om tydens dissiplinêre prosedures ’n tolk te kan aanvra sodat hul saak beter verdedig kan word in ’n taal wat vir hulle gemaklik is.
In ’n onlangse saak van Mmola v Commission for Conciliation, Mediation and Arbitration and others [2018] 8 BLLR 822 (LC) het die werknemer ’n tolk aangevra wat Sepedi magtig is, maar hy is voorsien van ’n onbekwame tolk wat slegs van Engels na Sesotho en Tswana kon vertaal. Die werknemer is toe ontslaan en het ’n saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys vir onbillike ontslag. Dié saak het tot in die Arbeidshof gevorder. Die hof het beslis dat dit prosedureel onbillik teenoor die werknemer was om nie aan hom ’n bevoegde tolk te voorsien soos versoek nie. Die werknemer is sewe (7) maande se kompensasie toegestaan omdat die ontslag ter selfde tyd substantief onbillik was.
Werknemers het ingevolge artikel 185 van die Wet op Arbeidsverhoudinge (No. 66 van 1995) die reg om nie onbillik ontslaan te word nie. Vir ontslag om billik te wees sal dit substantief (met goeie rede) en prosedureel (regte prosedure is gevolg) billik moet wees. As ’n werknemer ’n tolk geweier word, of soos in die bogenoemde saak van ’n onbekwame tolk voorsien word, sal die prosedure onbillik teenoor die werknemer wees omdat hy of sy nie ’n billike kans gegun is om hul saak te kan verdedig in ’n taal wat vir hulle gemaklik is nie. Dus is dit van kardinale belang om alle partye in die werkplek se waardigheid te alle tye in ag te neem.
Dit is belangrik om seker te maak watter regte u tydens dissiplinêre prosedures het. Om die nodige advies en kennis in te win rakende hierdie regte kan u Solidariteit se Dienssentrum op 0861 25 24 23 skakel om arbeidsregtelike advies te bekom.
Outeur: Dana Grové