Deur Sanette Viljoen
Die meeste koopkontrakte van onroerende eiendom bevat ʼn voetstootsklousule. Hierdie klousule bepaal dat die verkoper nie aanspreeklik is vir enige latente defekte of verborge gebreke nie. Beteken dit dat ʼn verkoper in Suid-Afrika nie meer gedagvaar kan word vir sulke verborge gebreke nie, al was hy bewus daarvan? Die eienaar weet m.a.w. van die defek maar beskerm homself teen enige eis deur ʼn voetstootsklousule in sy kontrak te sit. Is dit gedig?
Die voetstootsklousule word deur baie verkopers misbruik en ook verkeerd verstaan en geïnterpreteer. Die voetstootsklousule beskerm slegs die verkoper teen defekte waarvan hy nie bewus was nie en wat hy redelikerwys nie kon voorsien het nie. Indien die verkoper weet van ’n defek rus daar ’n plig op hom om die defek te openbaar aan die koper en die voetstootsklousule beskerm hom slegs teen ʼn eis a.g.v. daardie defek indien hy die defek voor die koop aan die koper geopenbaar het.
Een van die wetlike uitsonderings op ʼn voetstootsklousule is dus dat, indien die koper kan bewys dat die verkoper van die defekte bewus was en dit bedrieglik weggesteek het, die koper wel skadevergoeding vir die defek kan eis van die verkoper al was daar ʼn voetstootsklousule.
Byvoorbeeld: Die verkoper het 10 jaar in die huis gewoon met ʼn dak wat lek. Die koper sal hier maklik kan bewys dat die verkoper bewus moes wees van die lekkende dak en dit bedrieglik weggesteek het vir die koper. Hier sal die voetstootsklousule nie die verkoper beskerm nie en sal die koper die skade van die verkoper kan verhaal.
Oops! We could not locate your form.