Deur Sanette Viljoen
In die hofsaak Van der Merwe v Die Meester van die Hooggeregshof & Andere 2011 in die Appèlhof moes die hof beslis of ’n ongetekende testament geldig was of nie.
Mnr. van der Merwe, die appellant, het die hof in terme van Artikel 2(3) van die Wet op Testamente 7 van 1953 genader om ’n ongetekende dokument van sy oorlede vriend as ’n geldige testament te verklaar en om die Meester van die Hooggeregshof te magtig om dit so te aanvaar. Die eerste hof het mnr. van der Merwe se aansoek van die hand gewys en hy het daarteen geappelleer.
Die feite is soos volg: In 2004 het die oorledene ’n geldige testament opgestel waarin hy sy hele boedel aan een van die Respondente in die saak nalaat. Van der Merwe en die oorledene het daarna in 2007 ooreengekom dat hul albei ’n testament sal opstel waarin hul mekaar as die enigste erfgenaam van hul onderskeie boedels sal benoem. Van der Merwe en die oorledene was albei ongetroud met geen nabye familie nie. Die oorledene het ’n testament opgestel en aan Van der Merwe gestuur vir sy goedkeuring. In hierdie nuwe testament het die oorledene ook alle vorige testamente herroep. Agt maande na die oorledene die nuwe testament aan Van der Merwe ge-e-pos het, kom hy tot sterwe sonder dat hy die nuwe testament onderteken het.
Die eerste hof het Van der Merwe se aansoek om die testament geldig te verklaar van die hand gewys, omdat daar nie ’n handtekening op was nie. Op appèl het die Regter aangevoer dat die doel van Artikel 2(3) reeds is om te verseker dat die versuim om aan al die formaliteite te voldoen gekondoneer kan word, sodat dit nie die ware bedoeling van die testateur sal verydel nie. Die Hof voer aan dat die weglating van ’n handtekening nog nooit ’n totale beletsel was om ’n dokument kragtens Artikel 2(3) as geldig te verklaar nie.
Volgens die hof het Van der Merwe daarin geslaag om te bewys dat die oorledene die dokument aan hom gestuur het, dat die dokument werklik bestaan het en ook dat die dokument steeds op die oorledene se rekenaar was en dit nooit afgehaal was nie. Dit was duidelik dat die oorledene die dokument opgestel het en dit nie ’n vals dokument was wat Van der Merwe self opgestel het nie. Dit was ook duidelik uit die dokument se opskrif dat dit die bedoeling was dat ander testamente herroep moet word.
Die appèl is gehandhaaf en die oorledene se goeie vriend was die erfgenaam.
Hierdie is wel nie die ideale situasie nie en dit sou baie makliker gewees het indien die testament van die staanspoor af aan al die vereistes voldoen het. Dit is ook baie duur om die hof te nader met so aansoek. Maak dus seker jou testament voldoen behoorlik aan al die formaliteitvereistes.
Oops! We could not locate your form.