Deur Nikki Prinsloo
Vandag kyk ons na die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (No. 85 van 1993) se algemene veiligheidsregulasies (regulasies (3)(1)-(4)) wat handel oor eerstehulpwerkers by die werkplek.
Wanneer moet eerstehulp by die werkplek toegepas word?
Die algemene veiligheidsregulasies (regulasie (3)(1)) verplig ʼn werkgewer om te verseker dat alle werknemers by die werkplek spoedige eerstehulpbehandeling sal ontvang indien noodsituasies of beserings by die werkplek opduik.
Wanneer moet ʼn eerstehulpwerker by ʼn werkplek aangestel word?
Die algemene veiligheidsregulasies (regulasie (3)(4)) bepaal dat – die werkgewer verplig is om ʼn eerstehulpwerker skriftelik aan te stel indien daar meer as tien werknemers by ’n werkplek in diens is. Die eerstehulpwerker moet gedurende normale werkure geredelik beskikbaar wees om eerstehulp toe te pas in geval van ʼn noodsituasie.
Wat moet die verhouding van eerstehulpwerkers tot werknemers in die werkplek wees?
Die algemene veiligheidsregulasies (regulasie (3)(4)) bepaal dat in die geval van winkels en kantore daar een eerstehulpwerker moet wees vir elke 100 werknemers. In ander werkplekke is die vereiste dat daar een eerstehulpwerker vir elke 50 werknemers moet wees.
Die bevoegdheid van ʼn eerstehulpweker
Volgens die Wet op Beroepsgesondheid en -Veiligheid se algemene veiligheidsregulasies (regulasie (3)(4)) moet ʼn eerstehulpwerker in besit wees van ’n geldige sertifikaat van bevoegdheid in eerstehulp, wat deur een van die volgende instansies uitgereik is:
(A) Die Suid-Afrikaanse Rooikruisvereniging (B) Die St John Ambulansstigting (C) Die Suid-Afrikaanse Eerstehulpliga (D) ’n Persoon of organisasie wat vir hierdie doel deur die hoofinspekteur goedgekeur is
Oops! We could not locate your form.