Deur Sanette Viljoen
Die kort antwoord op hierdie vraag is “ja”. In enige geval waar jy kan bewys dat jou skade veroorsaak is deur die nalatigheid van ʼn ander, is jy daarop geregtig om die skade te verhaal. In hierdie geval sal die nalatigheid daarin geleë wees dat die munisipaliteit of die owerheid op wie die verantwoordelikheid berus om daardie besondere pad in stand te hou ʼn plig het om die pad in stand te hou op ʼn wyse wat jou nie skade berokken nie. Indien hulle versuim om dit te doen op ʼn wyse wat redelikerwys van hulle verwag word en die padgebruiker lei as gevolg daarvan skade, sal hy wel ʼn eis hê.
Daar is tans talle sulke hangende eise in Suid-Afrika en talle suksesgevalle waar eienaars van voertuie suksesvol skade verhaal het van munisipale en provinsiale owerhede.
Dit is egter belangrik om te verstaan dat elke situasie op sy eie meriete beoordeel word. Verskeie faktore word oorweeg, bv. hoe lank die slaggat al daar was? Het die bestuurder enige bydraende nalatigheid? Was daar waarskuwings teen die slaggate? Hoe vinnig het die persoon gery?
Die norm sal altyd wees wat die redelike man in dieselfde omstandighede sou doen. Daar is deesdae talle borde langs die pad wat waarsku dat daar vir die volgende 10 km slaggate is. In hierdie geval gaan daar beslis gekyk word na die bestuurder se eie bydraende nalatigheid deur nie versigtig te wees nie.
As daar ʼn slaggat ontstaan en jy kan bewys die munisipaliteit was bewus daarvan of moes redelikerwys bewus gewees het daarvan, sal jy slaag met jou eis aangesien die munisipaliteit nie binne ʼn redelike tyd die gat reggemaak het nie.
Skade wat ingesluit word, buiten die algemene skade aan jou motor, is gevolgskade. Gevolgskade is byvoorbeeld waar jy in die middel van die nag langs die pad gaan staan a.g.v. ʼn slaggat en dan beroof word. Die skade as gevolg van die roof staan dan bekend as gevolgskade.
Die hartseer van die saak is egter dat baie Suid-Afrikaners die skadelas op hulself neem. Die rede hiervoor is die geweldige koste, tyd en moeite om die munisipaliteit aan te vat. Vir baie padgebruikers is dit net nie die moeite werd nie.
Oops! We could not locate your form.