Deur adv. Hanlie van Vuuren
Vraag:
Ek is aan diens beseer en is ingelig dat ek nie kan eis vir “pyn en lyding” nie. Is dit korrek?
Antwoord:
Persone wat ʼn besering aan diens opdoen, vra dikwels of hulle ’n eis vir “pyn en lyding” kan instel. Die antwoord op hierdie vraag is nee. Die rede hiervoor is omdat daar ’n verskil is tussen vergoeding vir beroepsbeserings en -siektes en eise vir skadevergoeding vir beserings wat onder ander omstandighede ontstaan.
Ingevolge artikel 35 van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (No. 130 van 1993) word ’n werknemer en sy afhanklikes die reg ontneem om ’n “siviele eis” teen die werkgewer in te stel. In ruil daarvoor word die streng bewyslas wat in ander siviele sake geld, verlig en die werknemer het nie nodig om sy verliese in ’n hof te “bewys” nie. Hy het dus nie nodig om sy “pyn en lyding” te bewys nie, slegs dat hy aan diens beseer is.
Die genoemde wet maak voorsiening vir sekere vasgestelde voordele, soos redelike mediese behandeling, vergoeding vir verlies aan inkomste, vergoeding aan naasbestaandes in gevalle van sterftes aan diens en vergoeding vir blywende arbeidsongeskiktheid. Laasgenoemde word slegs toegeken vir die verlies aan liggaamsdele en liggaamsfunksies en vir ernstige verminking, soos vervat in Bylaag 4 van die wet. Hierdie bylaag spesifiseer nie vergoeding vir pyn en lyding nie en dit is dus nie ingesluit by die voorgeskrewe toestande waarvoor vergoeding ingevolge die wet toegeken mag word nie. Vergoeding vir blywende arbeidsongeskiktheid hang af van die mediese bewysmateriaal wat in die vorm van mediese verslae aan die Vergoedingsfonds voorgelê word. Dit is dus van kardinale belang dat alle toestande van blywende aard tot in die fynste besonderhede in die Finale Mediese Verslag beskryf word en dat dit verder met foto’s en ander verslae deur deskundiges toegelig word, indien nodig.
Die Finale Mediese Verslag moet eers voltooi word wanneer die mediese behandeling ’n plato bereik het en die toestand dus stabiel is. Stabilisasie beteken dat mediese behandeling nie die toestand van die persoon verder kan verbeter nie. Vergoeding vir blywende arbeidsongeskiktheid kan eers op hierdie stadium bereken word.
Lede wat vrae oor beroepsbeserings en -siektes het, is welkom om dit aan ons te rig. Solidariteit Regsdienste beskerm ons mense!
Oops! We could not locate your form.