BEL ONS: 012 644 4300

a) Egskeiding

In die Suid-Afrikaanse familiereg kan ’n huwelik op drie maniere beëindig word:
  • deur die nietigverklaring deur die hof van ’n vernietigbare huwelik;
  • deur die dood van een of albei gades;
  • deur ’n egskeidingsbevel.

Benewens hierdie drie wyses van ontbinding kan die hof verklaar dat ’n huwelik as ontbind beskou moet word vanaf ’n bepaalde datum. Dit is in die geval van ’n gemeenregtelike vermoede-van-dood-bevel. Hierdie bevel beëindig nie outomaties ’n huwelik nie, maar ’n gade kan ’n afsonderlike aansoek bring dat die huwelik ontbind word. Die hofbevel is finaal en selfs indien dit later sou blyk dat die verdwene persoon steeds leef, sal die huwelik nie meer herleef nie.

i) Vervolgens kyk ons na die ontbinding van ’n huwelik deur middel van ’n egskeidingsbevel:

Die Wet op Egskeiding bevat die algemene samevatting van die egskeidingsgronde:
Onherstelbare verbrokkeling van die huwelik

’n Hof kan ’n egskeidingsbevel op grond van onherstelbare verbrokkeling toestaan indien hy oortuig is dat die huweliksverhouding tussen die partye in die huwelik so ’n toestand van verbrokkeling bereik het dat daar geen redelike vooruitsig op die hervatting van ’n normale huweliksverhouding tussen hulle bestaan nie.

Die wet gaan dan voort en gee voorbeelde van gevalle wat normaalweg ’n aanduiding van die onherstelbare verbrokkeling van ’n huwelik sal wees. Dit is die volgende:
  • Die partye het vir ’n ononderbroke tydperk van minstens ’n jaar nie as man en vrou saamgeleef nie.
  • Een gade het owerspel gepleeg en dit is vir die ander gade ondenkbaar om met die huweliksverhouding voort te gaan.
  • Een gade is deur die hof tot gewoontemisdadiger verklaar en dien gevolglik gevangenisstraf uit.

Die bogenoemde gevalle is egter net voorbeelde en is nie die enigste voorbeelde van verbrokkeling nie. Daar kan ander meer “neutrale” redes vir verbrokkeling ook wees, soos ’n gebrek aan kommunikasie, gewelddadige optrede teenoor die ander party, ens. Elke geval het sy eie feite en dit is die hof se werk om te bepaal of die huwelik inderdaad verbrokkel het en of daar dalk ’n kans op herstel is.

  • Geestesongesteldheid en voortdurende bewusteloosheid
    ’n Egskeidingsbevel kan verkry word as gevolg van geestesongesteldheid indien dit bewys kan word dat:
    • die ander gade as ’n pasiënt in ’n inrigting opgeneem is;
    • die ander gade vir ’n tydperk van twee jaar voor die instel van die egskeidingsaksie nie onvoorwaardelik uit die inrigting ontslaan is nie; en
    • die ander gade geestesongesteld is sonder dat daar enige redelike vooruitsig is dat hy of sy daarvan sal genees word.

    ’n Egskeidingsbevel kan verkry word as gevolg van voortdurende bewusteloosheid indien bewys kan word dat:

    • die ander gade permanent bewusteloos is;
    • die bewustelose toestand reeds vir ’n tydperk van ses maande voor die instel van die aksie aanwesig was; en
    • daar geen redelik vooruitsig is dat die gade sy of haar bewussyn sal herwin nie.

ii) Stappe in ’n egskeiding

– Die gade wat die egskeiding wil hê (die eiser), neem sy of haar huweliksertifikaat en gaan spreek ’n prokureur.

– Die prokureur stel ’n dagvaarding op teen die ander gade (die verweerder). Saam met die dagvaarding stel die prokureur ’n besonderhede-van-vordering-dokument op. Hierdie dokument sit die eiser se eis uiteen, met ander woorde wat die eiser alles uit die egskeiding wil hê, bv. toesig oor die kinders, verdeling van die boedel, ens.

– Indien die verweerder nie met die eise saamstem nie, moet hy of sy binne tien dae ’n kennisgewing van voorneme om te verdedig aan die eiser en die hof voorsien. In ’n geval waar die egskeidingsaksie verdedig word, moet albei partye in die hof teenwoordig wees op die dag waarop die bevel toegestaan word. Die partye kan ook ooreenkom oor die bepalings van die egskeidingsbevel en die prokureurs van die partye stel dan ’n toestemmingsdokument op, wat as ’n skikking bekend staan.

-Indien die verweerder nie die aksie wil verdedig nie, hoef slegs die eiser op die betrokke dag in die hof te verskyn.

iii) Onderhoud

<p- Onderhoud van ’n gade

Die partye kan skriftelik ooreenkom oor die onderhoud wat een gade aan ’n ander sal betaal. So ʼn ooreenkoms kan ’n bevel van die hof gemaak word.

In die geval waar daar geen skriftelike ooreenkoms tussen die partye rakende die betaling van onderhoud bestaan nie, maak die hof ’n bevel rakende die betaling van onderhoud deur een gade aan ’n ander. Artikel 7(2) van die Wet op Egskeiding bevat ’n aantal faktore wat die hof moet oorweeg ten einde te besluit of ’n onderhoudsbevel verleen moet word en wat die omvang van onderhoud sal behels.

Hierdie faktore is die volgende:
  • die bestaande of verwagte vermoëns van elk van die partye;
  • die gades se onderskeie verdienvermoëns;
  • die finansiële behoeftes en verpligtinge van die gades;
  • die ouderdom van die gades;
  • die lewenspeil van die gades voor egskeiding;
  • hul gedrag sover dit op die verbrokkeling van die huwelik betrekking het;
  • enige ander faktore wat in aanmerking geneem moet word.

Na die oorweging van die faktore sal die hof ’n bevel gee wat hy billik ag met betrekking tot die betaling van onderhoud deur een gade aan die ander.
’n Onderhoudsbevel kan vir ’n spesifieke termyn verleen word, of tot die dood of hertroue van die onderhoudsgeregtigde.

– Onderhoud van ’n kind

Volgens die wet is dit beide ouers se plig om na hul vermoë hul afhanklike kinders te onderhou. Die onderhoudsbevel word verleen in die beste belang van die kind. Die onderhoudsverpligting duur voort solank as wat ʼn kind (selfs ʼn meerderjarige kind) onderhoudsbehoeftig is en ouers in staat is om in die kind se behoeftes te voorsien.

Die volgende faktore is vir die hof relevant om die onderhoudbedrag te bepaal: die kind se ouderdom, gesondheidstoestand, opvoedkundige behoeftes, die ouers se vermoënsposisie en die lewenstandaard van die gesin.

Daar word gewoonlik in die onderhoudsbevel aangedui tot op watter ouderdom onderhoud verskaf moet word. In die afwesigheid van so ʼn bepaling sal die onderhoudsverpligting voortduur totdat dit ingevolge ʼn hofbevel ingetrek word.

Enige familielid wat die kind voltyds versorg, kan by die onderhoudshof aansoek doen dat een van die ouers, of die ouers van een van die ouers (die oupa of ouma), onderhoud moet verskaf. Die persoon van wie onderhoud geëis word, moet dit kan bekostig.

– Aansoek om onderhoud

Vra enige onderhoudsamptenaar by jou naaste onderhoudshof om jou te help om die nodige vorms in te vul. Werk uit hoeveel die kind jou per maand kos en skryf elke bedrag neer. Indien ʼn onderhoudsbevel toegestaan word, is daar verskeie maniere hoe dit geëis kan word: ʼn Kontantbetaling wat maandeliks aan die hof betaal word, direkte betaling in jou bankrekening in of ʼn aftrekkingsbevel waar die onderneming vir wie die persoon werk, die onderhoudsbedrag van sy salaris aftrek en dit in jou rekening inbetaal.

iv) Sorg (beheer en toesig)

  • Sorg (toesig) het twee bene;
  • gesamentlike sorg; en
  • uitsluitlike sorg.
  • Waar ouers gesamentlike regs- en gesamentlike fisiese sorg uitoefen, dra hulle gelykwaardig by tot besluitneming ten opsigte van die kinders se groeibehoeftes en welstand. Hulle spandeer ook deelagtig tyd saam met sodanige kinders. Hierdie situasie sal druk plaas op die kinders en mag ook persoonlike praktiese probleme veroorsaak ten opsigte van die kinders se roetine, bv. onderrig, ens.

    So ’n reëling sal ook praktiese huishoudelike probleme veroorsaak, bv. die voorsiening van twee huishoudings wat albei toegerus om op ʼn permanente basis in die kind se behoeftes te voorsien, ens. Hierdie tipe reëlings is gewoonlik nie prakties uitvoerbaar nie en word aldus nie as ’n reël beoefen nie.

    Gesamentlike sorg word meer algemeen beoefen. Beide ouers deel in die langtermyn besluitneming ten opsigte van die kind se welsyn en groeibehoeftes, maar die fisiese sorg word aan een van die ouers toegestaan.

    Uitsluitlike sorg sal nie ligweg toegestaan word aan ’n ouer nie weens die beperkings wat dit op die regte van die ander ouer plaas.

    Wanneer uitsluitlike sorg toegestaan word, beskik sodanige ouer oor eksklusiewe regs- en fisiese sorgdraende regte ten opsigte van die kind. Toekenning van hierdie aard word ingekort tot gevalle waar niebeheerdraende ouers verantwoordeliker- gewys as onbevoeg beskou word, bv. dwelm verslaafdes, ens. Die niebeheerdraende ouer mag wel aansoek doen om gedeeltelike besoekersregte, wat onder toesig sal plaasvind in gevalle van vorige kindermishandeling, ens.

    ’n Tussentydse toekenning, van enige van die bogenoemde gevalle, kan aangevra word deur ’n ouer indien goeie rede daarvoor bestaan, bv. in kindermishandeling-aangeleenthede, ens.

    b) Die huwelik

    Die huwelik word deur die wet gedefinieer as ’n vrywillige verbintenis van twee persone wat beide 18 jaar of ouer is en wat gesluit en geregistreer word deur òf ’n huwelik, òf ’n burgerlike vennootskap ooreenkomstig die voorskrifte van die Wet en met uitsluiting van alle ander vir die duur daarvan.

    Indien ’n minderjarige in die huwelik wil tree, is daar sekere vereistes waaraan voldoen moet word. Een van hierdie vereistes is dat seuns tussen die ouderdom van 14 jaar en 18 jaar oud die minister sowel as hul ouers se toestemming nodig het om te trou, en meisies tussen 15 jaar en 18 jaar oud bloot hulle ouers se toestemming benodig. Indien ’n minderjarige wil trou, is dit raadsaam om ’n prokureur verband hiermee te raadpleeg.

    Ten einde ’n geldige huwelik te sluit, moet die partye daartoe bevoeg wees. Partye kan om ’n verskeidenheid redes hoegenaamd nie oor die bevoegdheid beskik om in die huwelik te tree nie, of met mekaar in die huwelik te tree nie. Voorbeelde hiervan is as die persoon reeds ’n getroude status het kragtens die Huwelikswet (No. 20 van 1998), indien die persoon kranksinnig is, of indien dit ʼn seun jonger as 18 jaar of ʼn meisie jonger as 15 jaar is, indien daar bloedverwantskap tussen die partye bestaan, ens.

    Daar moet ook wilsooreenstemming tussen die partye wees. Gevolglik word dit in ons reg vereis dat die partye tydens die burgerlike verbintenisseremonie hul bereidwilligheid om met mekaar in die huwelik te tree, moet verklaar. Hierdie bereidheid wat in die teenwoordigheid van twee getuies en die huweliksbevestiger verklaar moet word, deur skriftelik te bevestig dat hulle ’n burgerlike verbintenis met mekaar sluit, dien as bevestiging daarvan dat daar wilsooreenstemming tussen die partye bestaan.

    Ingevolge die Huwelikswet moet die gades, die getuies en die huweliksbevestiger die huweliksregister onmiddellik na voltrekking van die huwelik onderteken.

    i) Huweliksvoorwaardekontrak (HVK)

    Voordat twee mense die huwelik betree, is dit ʼn wyse besluit om ʼn huweliksvoorwaardekontrak op te stel. In die Suid-Afrikaanse regstelsel is twee persone outomaties binne gemeenskap van goedere getroud tensy daar ʼn huweliksvoorwaardekontrak is. ʼn Huweliksvoorwaardekontrak word deur ʼn prokureur opgestel en word by die aktekantoor geregistreer.

    As jy voor die troue ʼn huweliksvoorwaardekontrak gesluit het, mag dit met of sonder die aanwasbedeling wees. Aanwas beteken bloot “groei”.

    “Met aanwas” beteken alles wat die twee partye besit het voordat hulle getroud is, bly hul eie en die waarde van alles wat hulle tydens die huwelik gekoop het (die toename in hulle besittings), word om die helfte verdeel. Elke party kry sy of haar eie besittings, plus die helfte van die besittings wat tydens die huwelik aangekoop is.

    “Sonder aanwas” beteken dat alles wat die partye voor die troue besit het en alles wat hulle daarna bekom het, elkeen se afsonderlike eiendom bly.

    Baie mense wat in gemeenskap van goedere getroud is, vind hierdie vorm van ʼn huwelikskontrak ongerieflik en wil dit graag verander. Om binne gemeenskap van goedere getroud te wees, beteken dat elke saketransaksie, insluitende die koop van eiendom, wat enigeen van die party aangaan, deur die ander party onderteken moet word. Vir baie mense word dit bloot onprakties. Dis moontlik om die wetlike status van ʼn huwelik te verander, maar dit is duur. ʼn Prokureur is nodig en dit moet deur die hooggeregshof gehanteer word.

    c) Gesinsgeweld-interdik

    Daar is verskillende tipes geweld wat tuis kan voorkom, nl.:
    • Liggaamlike mishandeling: dit is waar liggaamlike aanranding plaasvind.
    • Seksuele misbruik: dit is waar een of meer persone ʼn ander persoon seksueel misbruik, bv. die pa molesteer sy dogter.
    • Ekonomiese misbruik: dit is bv. gevalle waar die kleinkinders of kinders ʼn pensioenaris se welsynstoelae vir hul persoonlike doeleindes gebruik en dan die pensioenaris verwaarloos.
    • Woordelikse misbruik: herhaalde beledigings, afkraak, vloek of uitskel.
    • Intimidasie: enige gedrag wat ʼn bedreiging vir iemand anders inhou.
    • Teistering: die herhaling van onwelkome dinge om iemand anders te irriteer of om sy/haar lewe moeilik te maak, bv. ongevraagde telefoonoproepe; voortdurend opdaag by iemand se werk; emosionele, woordelikse of sielkundige misbruik; bekruiping; skade aan eiendom; onwettige betreding; oorheersende gedrag; ens.

    Jy het twee keuses wanneer jy met geweld by die huis te doen het. Jy kan aansoek doen om ʼn beskermingsbevel, of jy kan ʼn klag indien, of albei.

    ʼn Beskermingsbevel is ʼn dokument wat iemand beveel om sekere optrede te staak of anders die gevaar van inhegtenisneming te loop. Dit gee aan die misbruiker ʼn kans om ʼn nuwe blaadjie om te slaan. ʼn Misdaadrekord sal nie teen hom/haar geopen word nie. Die mag wat die beskermingsbevel jou gee, is dat jy tesame daarmee ʼn bevelskrif tot aanhouding kry wat jy kan hou en teen die oortreder kan gebruik indien hy/sy die bepalings van die beskermingsbevel minag.

    Die indien van ʼn klag beteken dat die polisie ʼn ondersoek sal instel en die beweerde oortreder in hegtenis sal neem indien sy / haar optrede op ʼn misdaad neerkom. Jy kan aansoek doen om ʼn tussentydse beskermingsbevel vir onmiddellike beskerming.

    • 6
    •  
    •  

    Registreer / Register

    Maak toe / Close