Deur Leigh McMaster
Vraag:
Moet werkgewers aanspreeklik gehou word vir die gesondheid en veiligheid by hul ondernemeings?
Antwoord:
Ja, alle werkgewers moet aanspreeklik gehou word vir die gesondheid en veiligheid by hul ondernemings. Die versekering van gesondheid en veilige werkplekke is deel van die mynbedryf se sosiale lisensie om mynbou te mag bedryf.
Neem byvoorbeeld die kompensasiestryd wat dreig in die goudmynbedryf. Die saak, Mankayi v. AngloGold Ashanti, waarin ’n mylpaalbeslissing in 2011 gegee is, het ’n presedent daargestel vir ’n moontlike klasaksie-regsgeding teen ongeveer 30 goudmynmaatskappye. Silikastof hou ’n groot risiko vir werknemers in wat dekades lank in myne werk. Dit was egter baie moeilik om die voorkoms van silikose onder voormalige en huidige mynwerkers te bepaal, maar ’n 2009-verslag van die Health Systems Trust, wat verskeie navorsingsverslae geëvalueer het, hou voor dat die voorkoms van silikose onder voormalige werknemers tussen 20% en 30% mag wees. Die potensiële aantal eisers kan, met inagneming van die goudbedryf se indiensname statistieke oor die afgelope agt dekades, aansienlik wees.
Richard Spoor, ’n menseregte aktivis en prokureur, het stappe geneem om ’n klasaksie-geding teen die meer as 30 goudmynmaatskappye aanhangig te maak namens 17 000 voormalige myners wat aanvoer dat hulle silikose, ’n aftakelende longkwaal, vanweë nalatigheid wat betref gesondheid en veiligheid, opgedoen het. Onder die maatskappye tel die wêreld se derde grootste produsent van goudstawe, AngloGold Ashanti, en die vierde grootste produsent van goudstawe, Gold Fields en Harmony Gold. Spoor het die aansoek om ’n klasaksie-geding aanhangig te maak in Desember 2012 by die hooggeregshof ingedien en daar word verwag dat die saak in Mei 2013 aangehoor sal word. Vanweë verskeie faktore is dit steeds onduidelik wat die omvang van die eise en skade gaan wees, maar die eise sal ongetwyfeld ’n aansienlike impak op die finansiële volhoubaarheid van die bedryf hê.
Solidariteit huldig die mening dat voormalige en huidige werknemers wat aan werksverwante longkwale ly teen redelike vlakke vergoed moet word wat, as gevolg van diskrepansies in die Suid-Afrikaanse wetgewing wat met kompensasie verband hou, nie tans die geval is nie. Die ontwikkeling van ’n trustfonds vir kompensasie kan ’n meer volhoubare model bied vir die betaling van redelike kompensasie aan werknemers wat medies ongeskik geraak het, terwyl dit ook volhoubare werk vir die huidige arbeidsmag sal verseker.
Oops! We could not locate your form.