Deur Sanette Viljoen
ʼn Trust is in wese ʼn ooreenkoms of kontrak tussen die oprigter van die trust, die trustees en die begunstigdes van die trust. Die trustakte neem die vorm aan van hierdie ooreenkoms of kontrak.
Die trustees van ʼn trust mag slegs optree en handel volgens die bepalings van die trustakte. Indien ʼn trustee teenstrydig met die trustakte optree, is sy handeling onregmatig en kan deur ʼn hof veroordeel word of selfs tersyde gestel word.
Soms is die trustakte verouderd of selfs verkeerd en onuitvoerbaar opgestel en dien nie meer die doel waarvoor die trust opgestel is nie. In so ʼn geval ontstaan die behoefte om die trustakte te wysig.
Oor die algemeen is daar drie wyses waarop ’n trustakte gewysig kan word:
Eerste wyse
Die oprigter en trustees onderteken ʼn wysigingsooreenkoms waarin die voorgestelde wysigings vervat word. In ʼn geval waar ʼn begunstigde reeds voordeel kragtens die trustakte ontvang het, word hy gesien as ʼn party tot die aanvanklike ooreenkoms en hy moet dus ook ʼn party tot die voorgestelde wysigingsooreenkoms wees.
Dit is belangrik om hier daarop te let dat al die aanvanklike partye tot die trustakte moet toestem tot hierdie wysiging. Indien die oprigter van die trust oorlede is, sal hierdie manier van wysiging nie gebruik kan word nie.
Tweede wyse
Die trustakte word gewysig volgens die bepalings van die wysigingsklousule van die trustakte. Hierdie klousule bepaal hoe die wysiging moet geskied. Hierdie klousule verskil van trust tot trust en daar moet pertinent gekyk word na die bepalings van elke trustakte.
Indien die trust nie ʼn wysigingsklousule het nie, sal een van die ander twee wyses wat hier genoem word, gebruik moet word.
Derde wyse
Die trustakte word gewysig deur middel van ʼn hofaansoek. Wysiging deur ʼn hofaansoek sal die gepaste manier wees waar nie een van die bogenoemde twee opsies gepas sal wees vir die wysiging nie.
Dit is belangrik om gespesialiseerde regsadvies te verkry by die aanvanklike opstel van die trustakte om sodoende te verseker dat die akte reg opgestel word met geldige en uitvoerbare bepalings en om toekomstige probleme by die wysiging van die trustakte uit te skakel.
Oops! We could not locate your form.