Hoe word my aftreeouderdom bepaal wanneer my aftreeouderdom nie in my dienskontrak aangedui word nie en my werkgewer ook nie ‘n geskrewe beleid het aangaande ‘n aftreeouderdom nie?
Artikel 187(2)(b) van die Wet op Arbeidsverhoudinge (No. 66 van 1995) bepaal dat die beëindiging van ‘n werknemer se diens, gebaseer op die werknemer se ouderdom, regverdig sal wees indien die werknemer die normale aftreeouderdom van die werksplek bereik het of wanneer die werknemer ‘n ooreengekome aftreeouderdom bereik het wat tussen die werkgewer en werknemer ooreengekom was.
In die uitspraak van Rubin Sportswear v SA Clothing & Textile Workers Union & others (2004) 25 ILJ 167 (LAC) het die hof die betekenis van ‘n normale aftreeouderdom oorweeg. Die hof het onder andere na geregtelike en woordeboek-omskrywings gekyk en bevind dat die woorde verwys na dít wat met die sogenaamde norm vereenselwig kan word en toegepas word op ander werknemers wat in dieselfde kapasiteit aangestel was as die persoon wie se diensbeëindiging ter sprake was.
Die hof het verder bepaal dat ‘n sekere ouderdom nie skielik ‘n normale aftreeouderdom kan word bloot omrede die werkgewer besluit het dat dit die gepaste aftreeouderdom behoort te wees nie. Die werkgewer kan ‘n bepaalde ouderdom as aftreeouderdom aan sy werknemers voorstel en indien die werknemers die voorstel aanvaar, sal daar ‘n ooreengekome aftreeouderdom tot stand kom wat van toepassing is op die werknemers wat daartoe toegestem het. ‘n Ooreengekome aftreeouderdom word ‘n normale aftreeouderdom wanneer werknemers vir só ‘n lang tydperk op daardie aftreeouderdom afgetree het dat dit die norm geword het.
Indien ‘n werkgewer nie kan bewys dat daar oor ‘n redelike tydperk ‘n norm ontstaan het aangaande ‘n spesifieke ouderdom waarop werknemers moet aftree en dat die werknemers van hierdie norm bewus was nie, sal die werkgewer verplig wees om te poog om met die werknemer ‘n aftreeouderdom te onderhandel en daarop ooreen te kom. Dit beteken dat die werkgewer die werknemer tydens ‘n konsultasieproses ‘n redelike en billike geleentheid moet gee om insette te lewer en deel te neem ten einde ‘n ooreengekome aftreeouderdom te bepaal.
Indien die werknemer geforseer word om op ‘n bepaalde ouderdom af te tree sonder dat so ‘n konsultasieproses gevolg was en sonder dat daar ‘n normale aftreeouderdom by die werksplek teenwoordig was, sal die werknemer moontlik in terme van artikel 187(1)(f) ‘n dispuut as gevolg van ‘n outomatiese onbillike ontslag na die arbeidshof kan verwys.
Outeur: Hendrik van der Hoven
Oops! We could not locate your form.