Deur Adele Orton
Die Collins Dictionary definieer “horseplay” oftewel pret op kantoor as “rowwe spel waarin mense mekaar rondstoot en slaan, of op ʼn lawwe manier optree.” Alhoewel werknemers met hul sports nie die bedoeling het om ʼn ander werknemer te beseer of leed aan te doen nie, besef werknemers selde dat ʼn prettige speletjie of poets in ʼn ernstige situasie kan ontaard. As die onskuldige grappie onplesierigheid veroorsaak het of ernstige nagevolge het, kan daar streng opgetree word teen werknemers wat daarby betrokke was. In so ʼn geval kan hulle ʼn finale skriftelike waarskuwing of selfs ʼn afdanking in die gesig staar.
Wanneer ʼn werknemer in hierdie verband skuldig bevind word, is daar gelukkig omstandighede wat die erns van die sanksie kan beïnvloed. In die saak van Kellogg Company South Africa (Pty) Ltd and FAWU obo Lucky Khumalo and others, case number JR 1671/16 (LC) het ʼn werknemer, mnr. Lucky Khumalo, sy kollega ná twee dae se afwesigheid gegryp en haar in die rondte gedraai soos hy al vantevore gedoen het. Mnr. Khumalo was egter nie daarvan bewus dat sy kollega vir die twee dae weens ernstige hoofpyn afwesig was nie en toe sy hom vra om op te hou, het hy hom nie dadelik daaraan gesteur nie. Die gevolg was dat sy kollega duiselig geraak en haar bewussyn verloor het. Mnr. Khumalo het probeer verduidelik dat sy pretmakery bloot daarop gebaseer was dat hy bly was om sy kollega ná die twee dae se afwesigheid te sien. Ten spyte van sy verweer is mnr. Khumalo weens sy prettige gedrag ontslaan.
Die ontslag is by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) betwis. Die Kommissaris het in mnr. Khumalo se guns beslis en herindiensname in die toekenning gegee. Die werkgewer was egter nie tevrede met die bevinding nie en die toekenning is op hersiening geneem in die arbeidshof. Die arbeidshof het egter met die Kommissaris saamgestem en mnr. Khumalo se bedoelinge, jare van diens en skoon dissiplinêre rekord in ag geneem. In die lig van die feite het die arbeidshof mnr. Khumalo se herindiensname bevestig.
Alhoewel humor ʼn noodsaaklik instrument is om stres in die werkplek te ontlont, moet alle werknemers waaksaam wees om ʼn slagoffer te word van die ou bekende gesegde wat lui: “Van lekker lag kom lekker huil.”
Indien u meer inligting oor hierdie aangeleentheid benodig, kan u gerus ons Dienssentrum op 0861 25 24 23 kontak om met ʼn regsadviseur te praat.
Oops! We could not locate your form.