Deur Marli Naidoo
Baie mense verkies om huise te huur in plaas daarvan om te koop. Dit is definitief minder ingewikkeld as om ʼn huis te besit. Die eienaar kry wel huurgeld, maar hy is steeds aan die genade van die eiendomsmark en versteekte koste oorgelaat. Hy kan ook net hoop dat sy huurders sy huis mooi sal oppas en betyds hulle huur sal betaal. Huurhuise is ook geredelik beskikbaar en dus makliker bekombaar. Dit gebeur egter soms dat ʼn huurder benadeel word wanneer ʼn eienaar of agent onredelik of onwetlik optree teenoor hom. In so ʼn geval is dit belangrik dat die huurder bewus is van sy wetlike regte.
Moet nooit ʼn huis huur sonder ʼn formele kontrak nie, selfs al ken en vertrou jy die eienaar. Die kontrak moet ook wettig wees volgens die Wet op Huurbehuising (Wet 50 van 1999). Maak ook seker dat jy die kontrak deurlees en verstaan wat van jou as huurder verwag word.
Indien die huurder besluit om uit te trek en die eienaar nie die deposito betyds terugbetaal nie, sal die eienaar rente op die bedrag moet byvoeg. Die huiseienaar mag ook nie die deposito gebruik om die eiendom te opgradeer nie. Hy mag wel die deposito aanwend om koste te dek waarvoor die huurder verantwoordelik is, soos uitstaande huur, agterstallige waterrekeninge, verlore sleutels of skade wat deur die huurder aangerig is. Die oorblywende bedrag word dan aan die huurder uitbetaal. Hierdie betaling moet geskied binne 14 dae nadat die huurder uitgetrek het. Indien die huurder nie die finale inspeksie sou bywoon nie, het die eienaar 21 dae om die balans van die deposito terug te betaal.
Die huurder het die reg om kwitansies te ontvang vir alle gelde wat hy aan die eienaar betaal, asook fakture wat verskillende kostes uitlê.
Die eienaar mag nie die huurbedrag verhoog gedurende die vaste huurtydperk nie.
Gewoonlik is ‘n huurooreenkoms vir ‘n vaste tydperk, byvoorbeeld 12 maande. Die huurder het egter wel die reg om die huurkontrak voor die einde van die vasgestelde tydperk te kanselleer. Die huurder moet die eienaar 20 werkdae kennis gee. Hy moet ook onthou dat hy aanspreeklik sal wees vir ‘n redelike kansellasieboete. Indien die eienaar nie ander huurders kan vind nie, sal die huurder tot drie maande lank moet huur betaal.
Die eienaar is verantwoordelik vir instandhouding van die huis, en die huurder moet seker maak dat hy die eienaar inlig wanneer iets breek of probleme gee. Indien die huurder egter iets breek, moet hy seker maak dat hy dit vervang. Die eienaar en huurder moet met die aanvang van die huurtydperk seker maak dat albei weet wie vir wat verantwoordelik is. Dit moet ook duidelik in die kontrak aangeteken word.
Die eienaar mag nie vals inligting aan die kredietburo deurgee wat die huurder se kredietprofiel negatief sal beїnvloed nie. Die huurder mag een gratis kredietverslag per jaar aanvra.
Die eienaar mag nie net opdaag by die huis en daaraan werk of eis om ingelaat te word nie. Hy moet ʼn geleë dag en tyd met die huurders afspreek.
ʼn Huurder wat voel dat hy nie wetlik of billik behandel word nie, kan by die Huurhuistribunaal gaan aanklop. Hulle help huurders en eienaars om wettig op te tree en mekaar met die nodige respek te behandel.
Gereelde kommunikasie, respek en ʼn goeie kennis van albei partye se regte kan ʼn goeie verstandhouding tussen die partye verseker. Maak seker dat jy jou kant skoon hou en altyd binne die perke van die wet optree.
Bronne
Private Property: https://www.privateproperty.co.za/advice/property/articles/tenants-rights-and-obligations/559
Eviction lawyers of South Africa: https://evictionlawyerssouthafrica.co.za/tenants-rights-south-africa/
Law for all: https://www.lawforall.co.za/homes-property/basic-guide-to-renting-a-home-in-south-africa/
Private Property: https://www.privateproperty.co.za/advice/property/articles/the-rental-housing-tribunal-know-your-rights/4440
Oops! We could not locate your form.