Deur Sanette Viljoen
Artikel 204 van die Strafproseswet 51 van 1977 is van toepassing en word gebruik wanneer die vervolgingsgesag (die staatsaanklaer) besluit om ’n persoon wat deel was van ’n misdaad te gebruik om teen die ander mede-misdadigers te getuig.
Die enigste werklike regverdiging wat die staat hiervoor het, die basis waarop dit gebeur, is dat hulle sonder daardie getuienis nie genoegsame ander getuienis het om ’n skuldigbevinding teen die oorblywende beskuldigdes te regverdig nie. Die keuse is dus: óf almal kom los, óf hulle moet een van die misdadigers kry om te help.
Hulle offer dus ’n skuldigbevinding teen daardie persoon op ter wille daarvan om ’n paar ander aan die pen te laat ry. Hulle sal natuurlik hierdie tipe skuldigbevindings nooit regkry as die staatsgetuie nie daaruit voordeel trek nie. Hierdie voordeel is dan die kwytskelding teen verdere vervolging.
Dit is ook belangrik om daarop te let dat voordat so ʼn staatsgetuie getuig, hy deur die regter of die landdros gewaarsku word dat hy ’n artikel 204-getuie is en dat hy verplig is om alle vrae ten volle en op ’n eerlike manier te beantwoord en volledige getuienis moet gee selfs al inkrimineer dit hom. Dit beteken hy moet die volle omvang van sy betrokkenheid weergee en dit nie probeer afmaak of toesmeer nie. Hy moet al sy kennis aangaande die misdaad aan die hof openbaar en die hof ten volle in sy vertroue neem.
As die regter of die landdros dan tevrede is dat die staatsgetuie die volle waarheid gepraat het, sal die hof aan die einde van die saak daardie staatsgetuie kwytskeld van enige verdere vervolging vir die betrokke oortreding(s).
Vir hierdie getuie is daar darem ook ietwat van ’n verligting. Indien die regter of landdros oortuig is dat die staatsgetuie nie die volle waarheid gepraat het nie, mag sy getuienis of die verklarings wat hy gemaak het as deel van hierdie optrede as staatsgetuie nie teen hom gebruik word nie.
Oops! We could not locate your form.