Werknemers se kennisgewingstydperk word deur hul dienskontrak gereguleer. Indien jou dienskontrak melding maak van ʼn spesifieke kennistydperk, sal jy daardie tydperk moet eerbiedig. Dit is die geval al is die tydperk langer as wat in die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (“die Wet”) bepaal word.
Indien die dienskontrak geen melding maak van die kennistydperk nie, sal die kennistydperk afhang van die tydperk wat die persoon by die werkgewer gewerk het. Artikel 37 van die Wet stipuleer die volgende:
“Behoudens artikel 38 kan ʼn dienskontrak wat op versoek van ʼn party by die kontrak opsegbaar is, beëindig word slegs by kennisgewing van minstens-
(a) een week, indien die werknemer ses maande of korter in diens was;
(b) twee weke, indien die werknemer langer as ses maande maar nie langer as ʼn jaar nie in diens was;
(c) vier weke, indien die werknemer-
(i) ʼn jaar of langer in diens was; of
(ii) ʼn plaaswerker of huiswerker is wat langer as ses maande in diens was.”
Ingevolge artikel 38 van die Wet mag ʼn party tot ʼn dienskontrak versoek om nie die kennistydperk te werk nie en die werknemer moet dan vir daardie tyd vergoed word, tensy daar anders ooreengekom is. Dit kan egter slegs volgens ooreenkoms geskied en dit is altyd goed om die ooreenkoms op skrif te stel. Ons arbeidswetgewing maak nie daarvoor voorsiening dat ʼn werknemer sonder die toestemming van die werkgewer bedank en nie die kennistydperk werk nie.
Indien ʼn persoon nie die kennistydperk werk nie, mag die werkgewer nie die persoon se laaste salaris terughou nie, tensy daar so ooreengekom is in die dienskontrak. Indien dit wel gebeur dat ʼn salaris teruggehou word, sal die persoon die departement van arbeid kan nader en ʼn klagte daar indien.
Die werkgewer sal wel binne hul regte wees om die persoon sivielregtelik te vervolg en om enige skade wat gely is weens die werknemer wat nie sy of haar kennistydperk gewerk het nie van die betrokke persoon te verhaal. Die werkgewer sal dan ʼn aksie in die hof aanhangig moet maak om die geld te verhaal.
Dit is altyd belangrik om te bevestig wat ʼn dienskontrak rondom ʼn mense se kennistydperk bepaal omdat dit ʼn bindende en afdwingbare ooreenkoms tussen die werkgewer en -nemer is.
Outeur: Karolien van Wyk