Ek moes tyd by my werk afneem om na my kind te kyk wat siek was, kan ek dit as siekverlof neem?
Artikel 22 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes reguleer ʼn werknemer se siekverlof, en artikel 23 van die voormelde wet reguleer die bewys van ongeskiktheid. Die doel van ʼn werknemer se siekverlof is om verlof aan die werknemer te verleen indien die werknemer weens siekte ongeskik is om sy of haar werk te verrig, nié indien die werknemer se kind siek is nie. Daarom kan ʼn werknemer nie siekverlof benut indien sy of haar kind siek is nie.
Die wetgewers het wel voorsiening gemaak vir ʼn spesifieke tipe verlof indien ʼn werknemer se kind onder andere siek is. Artikel 27 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes maak voorsiening vir verlof vir gesinsverantwoordelikheid. Hierdie artikel is van toepassing op ʼn werknemer wat vir langer as vier maande in diens van ʼn werkgewer was; en wat vir minstens vier dae per week vir daardie werkgewer werk.
Gedurende elke jaarlikse verlofsiklus moet ʼn werkgewer, op versoek van die werknemer, drie dae betaalde verlof aan die werknemer verleen, wat die werknemer geregtig is om te neem:
(a) wanneer die werknemer se kind gebore word;
(b) wanneer die werknemer se kind siek is; of
(c) in die geval van die dood van:
(i) die werknemer se gade of lewensmaat; of
(ii) die werknemer se ouer, aangenome ouer, grootouer, kind, aangenome kind,
kleinkind of broer of suster.
ʼn Werknemer kan verlof vir familieverantwoordelikheid neem ten opsigte van ʼn hele of ʼn gedeelte van ʼn dag. Alvorens ʼn werknemer vir verlof ingevolge hierdie artikel betaal word, kan ʼn werkgewer redelike bewys vereis van ʼn geval waarvoor die verlof geneem is.
Outeur: Karolien van Wyk
Oops! We could not locate your form.