Deur Sanette Viljoen
Feitestel: Jan het ʼn seun en ook ʼn dogter. Die seun sit in ʼn finansiële verknorsing a.g.v. die inperkingtydperk. Jan wil graag sy seun help deur vir hom R50 000 te gee. Jan besef egter dat hy twee kinders het en hy wil tog graag al twee gelyk behandel. Hoe kan Jan sy sukkelende seun help sonder om sy dogter te benadeel?
Eerstens is dit belangrik om te weet dat elke persoon R100 000 per jaar belastingvry aan sy of haar kinders kan skenk. Dit beteken dat ʼn man en ʼn vrou saam R200 000 per jaar aan een of meer van hulle kinders gesamentlik kan skenk. Dit is egter belangrik om daarop te let dat 20%-skenkingsbelasting betaalbaar is op alles wat jy meer as R100 000 per jaar skenk. Hierdie opsie maak dat Jan nie belasting betaal nie, maar dit los dalk nie die probleem van gelykberegtiging van die twee kinders op nie.
Die oplossing wat oorweeg kan word, is ʼn leningsooreenkoms. Dit moet ʼn skriftelike ooreenkoms wees tussen Jan en sy seun waarin daar staan dat Jan R50 000 aan sy seun leen en dat hierdie geld op aanvraag terugbetaalbaar is. Dis egter belangrik om te besef dat die bewoording “op aanvraag” dikwels gaan beteken dat die ouer dit nooit gaan aanvra nie. Hierdie geld sal dan eers by die ouer se dood deur die eksekuteur aangevra word.
Jan se testament sal egter melding hiervan moet maak. Die eksekuteur sal daardie R50 000 van die seun moet vorder om seker te maak dat al die kinders gelykberegtig word. Jan moet seker maak dat sy testament se bewoording in hierdie geval reg is.
In die meeste standaardtestamente is daar ʼn klousule wat sê dat daar geen inbringing sal wees nie. Jan sal dus sy testament moet verander om hierdie klousule uit te sluit want hierdie standaardklousule beteken dat geen kind en/of erfgenaam enige skuld hoef terug te betaal nie. Daarom is dit belangrik om in hierdie geval dan seker te maak dat die testament spesifiek reg bewoord is deur te verklaar dat inbringing wel van toepassing is, m.a.w. uitstaande skuld van erfgename moet wel verhaal word.
Dit is altyd goed om in so geval inbringing van toepassing te maak op AL die erfgename. Verder sal dit ook goed wees om die bedrae van die uitstaande skuld te spesifiseer.
Oops! We could not locate your form.