Hoekom is daar kinderakteurs as kinders onder die ouderdom van 15 jaar nie mag werk nie?
Ingevolge die Wet op Basiese Diensvoorwaardes word die aanstelling van kinders onder die ouderdom van 15 jaar verbied. Daar is wel een uitsondering: kinderakteurs. Ingevolge Sektorale Vassteling 10: Kinders in die Verrigtinge van Advertering, Artistiese of Kulturele Aktiwiteite, Suid-Afrika, mag hulle in sekere omstandighede in diens geneem word.
Ingevolge die bogenoemde vasstelling kan ‘n kind onder die ouderdom van 15 alleenlik vir ’n werkgewer werk indien die werkgewer ’n wettige permit het wat deur die Minister van Arbeid uitgereik is.
Bogenoemde vasstelling bepaal onder andere dat ’n kind tussen die ouderdomme van 11 en 15 jaar vir ’n maksimum van vier ure per dag mag werk, en ’n kind van 10 jaar en jonger net drie ure per dag. Verder word daar ook ’n maksimum hoeveelheid tyd bepaal wat ’n kind per dag by die werk mag deurbring. Kinders onder die ouderdom van 5 jaar mag ’n maksimum van ses ure by die werk wees, kinders tussen 5 en 10 jaar mag agt ure daar deurbring, en die maksimum is 10 ure vir kinders ouer as 10 jaar.
ʼn Akteur bo die ouderdom van 10 jaar moet ʼn rustyd van ten minste ’n 30 minute ontvang na elke twee aaneenlopende ure se werk. ’n Akteur van 10 jaar en jonger moet na elke 90 minute se aaneenlopende werk ’n rustyd van 30 minute kry.
Die werkgewer moet verder sorg dat daar voedsame kos en drankies beskikbaar is vir die kind wat gepas is vir sy of haar ouderdom. Daar moet ook ’n aparte eetarea beskikbaar wees, waar alleenlik die kind en sy of haar ouers of kinderoppasser toegelaat word.
’n Kinderakteur kan tussen die ure 21:00 en 05:00 werk verrig slegs indien sy of haar ouers of wettige voog skriftelik daartoe ingestem het en nadat die werkgewer skriftelike redes voorsien het waarom die werk in daardie tyd verrig moet word. Die kind moet ook ’n ooreengekome toelaag ontvang, en indien die ouers of voog daarop aandring, moet die kind ’n mediese ondersoek ondergaan op die werkgewer se onkoste.
Bogenoemde is net enkele aspekte wat deur die sektorale vasstelling gereguleer word. Enige aspekte wat nie deur die vasstelling gereguleer word nie, val steeds onder die Wet op Basiese Diensvoorwaardes.
Outeur: Karolien van Wyk
Oops! We could not locate your form.