Deur Sanette Viljoen
ʼn Skulderkenningsboete is ʼn metode wat in ons reg gebruik word om druk op die oorvol hofrolle te verminder. Hierdie boete word as ʼn opsie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gebied aan ʼn persoon wat gearresteer is vir ʼn minder ernstige misdryf.
Hierdie boete kan betaal word nog voordat die persoon in die hof verskyn. Die persoon word ook dadelik vrygelaat na die betaling daarvan. Om hierdie rede skep die skulderkenningsboete die indruk by die publiek dat dit ʼn vinnige en maklike uitweg is om nie ʼn aand in die selle te spandeer nie. Hierdie boete het egter ernstige implikasies wat eers deeglik oorweeg moet word.
Die skulderkenningsboete moet ook nie verwar word met die bedrag wat ʼn persoon betaal om op borg vrygelaat te word nie. Indien ʼn persoon ʼn skulderkenningsboete betaal, erken hy inderwaarheid skuld aan die misdryf en kry ʼn kriminele rekord. Die SAPD mag ook nie ʼn persoon dwing of verplig om hierdie boete te betaal nie. Sodra die persoon se vingerafdrukke geneem is en ʼn formele dossier geopen is, sal die persoon ʼn kriminele rekord kry as hy hierdie boete betaal. Die betaling van ʼn gewone spoedboete val egter nie onder hierdie reël nie en sal nie vir jou ʼn kriminele rekord besorg nie.
Indien jy ʼn kriminele rekord kry a.g.v. die betaling van ʼn skulderkenningsboete, sal hierdie rekord geldig wees vir 10 jaar. Indien die skulderkenningsboete op jou SAP69 (kriminele rekord) verskyn, hou dit ernstige implikasies in. Jy sal byvoorbeeld sukkel om ʼn visum te bekom om oorsee te gaan, moeilik ʼn vuurwapenlisensie bekom en selfs sukkel om vir nuwe werk aansoek te doen.
Wees dus versigtig voordat jy die maklike opsie van ʼn skulderkenningsboete kies. Raadpleeg eers jou prokureur en vergewis jouself van die gevolge daarvan.
Oops! We could not locate your form.