Reël 25 van die KVBA bepaal wie ʼn party by versoenings- en arbitrasieverrigtinge van die kommissie mag verteenwoordig.
In die geval van versoeningsverrigtinge mag die werkgewerparty verteenwoordig word deur ʼn werknemer of ʼn direkteur (as die werkgewer ʼn maatskappy is) en in die geval van ʼn beslote korporasie (BK) kan die werkgewer deur een van die lede van die BK verteenwoordig word. Daarbenewens kan ʼn geregistreerde werkgewerorganisasie ʼn werkgewer verteenwoordig indien die werkgewer ʼn lid van die organisasie is. Die werknemerparty kan óf hom- of haarself verteenwoordig óf deur sy of haar geregistreerde vakbond verteenwoordig word.
In die geval van arbitrasieverrigtinge kan die onderskeie partye deur verteenwoordigers soos hierbo uiteengesit, verteenwoordig word of, afhangend van die aard van die dispuut, deur ʼn regspraktisyn. ʼn Regspraktisyn is ʼn praktiserende prokureur of ʼn advokaat wat deur ʼn praktiserende prokureur aangestel is. Nie een van die partye mag egter deur ʼn arbeidspraktisyn verteenwoordig word nie en die KVBA beskik nie oor die gesag om verteenwoordiging deur ʼn arbeidskonsultant toe te laat nie.
Dit is derhalwe gebiedend noodsaaklik dat daar aan die begin van enige proses wat voor die KVBA dien, vasgestel word of die verteenwoordiger aan die status (locus standi) voldoen om ʼn betrokke party te verteenwoordig. Indien die verteenwoordiger se status bevraagteken word, behoort die kommissaris vas te stel wat die kwessie rondom verteenwoordiging is en behoort die kommissaris die verteenwoordiger te versoek om stawende dokumente aan te bied. Sodanige dokumente kan die vorm aanneem van betaalstrokies, dienskontrakte en registrasiedokumente.
Outeur: Lelanie du Plessis
Oops! We could not locate your form.