Deur Sanette Viljoen van SV Legal
Vraag: Ek besit ʼn huis aan die Natalse kus. Hierdie huis word op ʼn maandelikse grondslag verhuur met die hulp van ʼn eiendomsagent. Op 01 Januarie 2021 het daar nuwe huurders in die huis ingetrek. Hulle het ʼn deposito gelykstaande aan twee maande se huurgeld betaal, tesame met die huurgeld vir Januarie. Ek was verbaas toe daar ʼn baie kleiner bedrag as verwag in my rekening inbetaal is deur die eiendomsagent. Dit het aan die lig gekom dat die agent sy 10%-kommissie geëis het op die totale bedrag wat deur die huurder inbetaal is, m.a.w. die agent het 10% van die deposito ook gevat. Mag daar kommissie op die deposito geëis word?
Antwoord:
Die antwoord is eenvoudig nee. Geen agent mag kommissie op die depositobedrag eis nie. Die deposito wat aan die begin van ’n huurooreenkoms ontvang word, mag nie deur die verhuurder/eiendomsagent gebruik word nie.
Wat moet dus met die huurder se deposito gebeur sodra hy dit oorhandig het?
Dit word in artikel 5(d) van die Wet op Huurbehuising (No. 50 van 1999) omskryf, wat bepaal dat die verhuurder die deposito in ʼn rentedraende rekening by ʼn erkende finansiële instelling moet belê. Enige rente wat op die deposito verdien word, behoort aan die huurder.
Indien die eiendom deur ’n eiendomsagentskap bestuur word, moet die deposito beskerm en belê word ingevolge die Wet op Eiendomsagentskapsake (No. 112 van 1976).
Hierdie deposito moet by die beëindiging van die huurtermyn weer terugbetaal word aan die huurder, tesame met die rente daarop verdien, nadat enige skade daarvan afgetrek is. M.a.w. daar mag geen kommissie teen hierdie bedrag geëis word nie.
Indien jou agent kommissie op die huurder se deposito gevat het, is jy, die verhuurder, beslis daarop geregtig om die agentskap daaroor aan te spreek en te vra dat die kommissie aan jou terugbetaal word sodat jy dit kan belê. Indien die agentskap in gebreke om dit te doen, kan jy die agentskap dagvaar vir die terugbetaling daarvan.
Oops! We could not locate your form.