Deur Emsie Martin
Jare gelede is chroniese brongitis by my man gediagnoseer − daar is toe later vasgestel dat dit skildklierkanker was. ʼn Mens aanvaar so maklik die uitslag van ʼn toets, maar wanneer kan jy ʼn eis instel vir verkeerde diagnose of enige ander mediese wanpraktyk?
Volgens DSC Prokureurs is mediesewanpraktykaangeleenthede uiters gekompliseer en onderworpe aan regsbeginsels, reëls en werkswyses (wetsgesag) wat van ander velde van die reg verskil.
Indien jy glo dat jy ʼn slagoffer is van mediese wanpraktyke of nalatigheid, is dit uiters noodsaaklik dat jy ʼn prokureur raadpleeg met die nodige gespesialiseerde kennis van hierdie komplekse regsveld sodat jy die nodige inligting kan bekom om te kan bepaal of jy wel binne die reg is en hoe jy met die regsaangeleentheid moet voortgaan.
Mediese wanpraktyke word geklassifiseer as nalatige optrede of nalatige versuim om op te tree deur ʼn mediese professionele persoon wat gelei het tot persoonlike besering van ʼn pasiënt.
Dit is nie beperk tot mediese dokters nie, maar is ook van toepassing op verpleegsters, tandartse, osteopate, gesondheidsorggeriewe (probleme met medikasie, higiëne of behandeling) en gesondheidsorgdienste, soos verpleeginrigtings asook kosmetiesediensverskaffers.
Nalatigheid kom voor wanneer ʼn medies gekwalifiseerde persoon se optrede nie die aanvaarde praktykstandaarde nakom nie en dit skade vir ʼn pasiënt veroorsaak.
Kan ek ʼn eis instel?
Indien jy glo dat jy of ʼn familielid ʼn slagoffer van mediese nalatigheid is, het jy die reg om na jou eie mediese rekords, kaarte en inligting te kyk. Hierdie rekords kan jou ook help om ʼn soliede saak te maak.
Voorbeelde van nalatigheid sal foute in die volgende stadiums van gesondheidsorg insluit:
Diagnose
Behandeling
Siektebestuur
Daar word van pasiënte vereis dat hulle toestemmingvorms teken voordat hulle prosedures of operasies ondergaan.
“Ingeligte toestemming” beteken dat die verskaffer van ʼn mediese diens die pasiënt deeglik moet inlig oor die inherente risiko’s, voordele en alternatiewe betrokke by enige chirurgiese of mediese prosedure of behandeling en dat die pasiënt na behore hul skriftelike toestemming verleen het om met die behandeling voort te gaan.
Indien ʼn mediese praktisyn se optrede nie aan algemene aanvaarde standaarde voldoen nie (die sogenaamde “redelike praktisyntoets”) kan so ʼn praktisyn moontlik vir mediese nalatigheid gedagvaar word.
ʼn Voorbeeld sal wees waar ʼn pasiënt byvoorbeeld bloeding tydens of na ʼn operasie ontwikkel en die praktisyn(s) nie gou genoeg of voldoende reageer om so ʼn komplikasie te hanteer nie en sulke handeling of versuim om vroegtydig en effektief op te tree lei tot skade vir die pasiënt. In so ʼn geval sal dit binne die pasiënt se regte wees om ʼn eis van mediese wanpraktyk in te stel.
Hieronder is ʼn lys van algemene voorbeelde waar mediese nalatigheid kan voorkom:
Soek regsadvies!
Jy moet bepaal watter uitkoms jy wil hê indien jy ʼn saak van mediese wanpraktyk aanhangig maak aangesien sulke sake dikwels uitgerek kan wees.
Indien jy net ʼn klagte wil indien, sal dit die beste wees om RGB (die Raad vir Gesondheidsberoepe) te raadpleeg. Indien jy skadevergoeding wil eis, kontak ʼn prokureur wat spesialiseer in mediesenalatigheidregsprosedures.
Bron
MET VERGUNNING VAN De Vries Shields Chiat Ingelyf (DSC Prokureurs) ʼn regspraktyk in Kaapstad wat spesialiseer in persoonlikebeseringsreg
https://www.dsclaw.co.za/af/inligting-oor-mediese-wanpraktyk-eise/
Oops! We could not locate your form.