Moet ek ’n trust stig, of nie?

Maandag, Januarie 30th, 2017

Sanette de Jager

 

Wanneer ’n trust geskep word, plaas die stigter bates onder die beheer van die trustees. In ons regstelsel bestaan twee vorme van ’n trust. Die eerste vorm is ’n inter vivos trust,  wat ontstaan tydens die stigter se leeftyd. Die tweede vorm is ’n testamentêre trust, wat ontstaan by die testateur se dood. In hierdie artikel gaan daar gefokus word op die inter vivos trust.

Hierdie trust het ’n paar voordele wat dit vir baie mense ’n voorkeurbesigheidvorm maak. Een van die grootste voordele is om boedelbelasting te verminder. Geen boedelbelasting is betaalbaar op bates van ’n trust nie omdat ’n trust nooit sterf nie. Boedelbelasting is belasbaar teen 20% van die brutowaarde van die boedel. Dit beteken dat as daar ’n groot nettowaarde is, miljoene bespaar kan word.

Die volgende groot voordeel is die beskerming wat ’n trust vir sy begunstigdes bied. Krediteure van die begunstigdes kan glad nie aan die bates van die trust raak nie, omdat dit nie die eiendom van die begunstigdes is nie. Hierdie voordeel is veral belangrik vir mense wat blootgestel is aan persoonlike aanspreeklikheid. Maatskappye en persone kan bates na ʼn trust oordra. Begunstigdes sal ook steeds die voordeel van die trustbates kan geniet, selfs al sterf een van die trustees.

 

’n Trust het ook nadele, wat versigtig teen die trust se voordele opgeweeg moet word voordat  op ’n trust besluit word.

Nadele sluit in die kostes wat dit behels om ’n trust te stig. Hierdie kostes is baie hoër as die kostes van bv. ’n maatskappy. Indien jy onroerende bates na jou nuutgeskepte trust wil oordra, sal jy verantwoordelik wees vir die betaal van hereregte. Hereregte is belasbaar volgens ʼn glyskaal. Die stigters van die trust kan ook verantwoordelik wees vir skenkingsbelasting, wat tans belasbaar is teen 20% van die waarde van die bates oorgedra aan die trust.

Die trustees van ’n trust loop ook ’n groot risiko. As daar ingevolge Artikel 9 van die Wet op Beheer van Trustgoedere bevind word dat ’n trustee nie met die nodige sorg, toewyding en vaardigheid opgetree het nie, kan die trustee persoonlik aanspreeklik gehou word vir verliese wat die trust lei. Trustees se handelinge mag dalk as nalatig beskou word indien hulle hoë-risikobeleggings aangaan, maar ook as hulle beleggings aangaan wat te konserwatief is en wat veroorsaak dat die kapitaal nie teen ʼn goeie rentekoers groei nie. Trustees moet ook daarvan bewus wees dat hulle aanspreeklik gehou kan word selfs al is daar net een trustee met tekenmagte, aangesien ʼn swak keuse deur hierdie persoon alle trustees aanspreeklik vir nalatigheid sal maak.

’n Baie belangrike aspek wat soms deur stigters vergeet word, is dat die bates nie meer aan hulle behoort nie, maar aan die trust. Indien die beheer nie aan die trust oorgegee word nie, kan die stigter se krediteure redeneer dat die trust slegs ’n alter ego van die stigter is en daarom kan hulle van die trust eis. Boedelbelasting sal dan ook betaalbaar wees as gevolg hiervan.

Nog ’n groot nadeel van ’n trust is dat die verdienste uit bates in die trust teen 40% belas word, en baie min vrystellings is van toepassing op trusts. Die huidige koers vir kapitaalwinsbelasting vir ʼn inter vivos  trust is 66.6% terwyl die koers vir individue 33.3% is.

Net uit bogenoemde kan gesien word dat ’n individu baie mooi moet besluit voor hy ’n trust op die been bring. ’n Trust is nie altyd die regte keuse vir ’n besigheid nie. Die voordele en nadele moet opgeweeg word teen die tipe besigheid wat die stigter oorweeg.

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Egskeiding en rente op pensioen
Vraag: “Ek is al vir 20 jaar getroud, maar my huwelik is in gedrang en die moontlikheid bestaan dat ons binnekort gaan skei. My man het ʼn goeie pensioenfonds wat ons beplan het om vir ons aftrede te gebruik, en ek is bekommerd dat ek nie op enige deel daarvan geregtig sal wees sou ons […]
Wat is ‘n lewende testament?
Sanette de Jager   Almal weet en verstaan wat ʼn testament is ─ die dokument waarin jy jou wense uitdruk vir die dag van jou afsterwe. In hierdie dokument benoem jy die begunstigdes van jou bates en bepaal wat met jou kinders gebeur. Daar is egter ʼn groot verskil tussen ʼn gewone testament en ʼn […]
Wanneer kan iemand polisieborgtog kry as hy buite hoftyd gearresteer word?
Sanette Viljoen   Enige persoon wat in hegtenis geneem word, moet so gou moontlik na ‘n polisiestasie geneem en ingelig word van sy of haar reg om vir borgtog aansoek te doen. Die persoon moet binne 48 uur na sy of  haar inhegtenisname voor ‘n hof gebring word. Indien die 48-uur-tydperk buite gewone hoftyd verstryk, […]
1 2 3 41