My werkgewer wil my geld vat sonder dat ek ʼn sê daaroor het. Hoe wettig is dit? Hy sê ek skuld hom geld omdat daar van die voorraad weggeraak het en ek moet ʼn skulderkenning teken.
Artikel 34 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes Nr. 75 van 1997 maak voorsiening vir aftrekkings en ander handelinge in verband met besoldiging.
Aftrekkings van ʼn werknemer se salaris mag alleenlik geskied nadat die werknemer skriftelik ingestem het tot die aftrekking vir ʼn spesifieke bedrag wat geskuld word, of wanneer die aftrekking geskied ingevolge ʼn kollektiewe ooreenkoms, wet, hofbevel of arbitrasietoekenning.
Indien die werkgewer ʼn aftrekking van ʼn werknemer se salaris wil maak weens finansiële skade wat die werkgewer gely het as gevolg van ʼn handeling van die werknemer, mag die werkgewer alleenlik die gelde aftrek indien ʼn billike proses gevolg is en daar aan sekere vereistes voldoen is, naamlik: (a) die skade moes verrig gewees het deur die werknemer tydens die verloop van sy diens by die werkgewer; (b) dit moet bewys word dat dit die werknemer se skuld was dat die skade plaasgevind het; (c) die werkgewer moes ʼn billike proses gevolg het; (d) die werknemer moes geleentheid gehad het om te verduidelik hoekom die aftrekkings nie gemaak moet word nie; (e) die aftrekking mag nie meer wees as die werklike skade gely nie; en (f) die maandelikse aftrekkings mag nie meer as ʼn kwart van die werknemer se salaris beloop nie.
Ons raai u aan om nie die skulderkenning te teken nie. U werkgewer (bestuur) sal eers ʼn proses moet volg indien hulle die geld van u salaris wil aftrek. Ons stel voor dat u op skrif bevestig dat u nie die skulderkenning gaan teken nie. Indien die werkgewer voortgaan met die aftrekking, kan u die aangeleentheid na die departement van arbeid verwys.
Dit verhoed egter nie die werkgewer om u by wyse van ʼn siviele aksie vir enige skade weens u opset of nalatigheid te dagvaar nie. Om egter gewoon ʼn bedryfsrisiko soos voorraadverlies op werknemers af te wentel en sulke verliese van die werknemers te verhaal, sal nie billik wees nie en ingevolge artikel 34 van bogenoemde Wet sal dit dus onwettig wees.
Outeur: Phil Davel
Oops! We could not locate your form.