Deur Sanette Viljoen
Eerstens moet ons daarop let dat ʼn trust nie regspersoonlikheid het nie. Die trust word verteenwoordig deur sy trustees. Dis ʼn eiesoortige regsfiguur wat beheer word deur die trustakte. Alles wat die trustees mag doen en nie mag doen nie word in die trustakte uitgespel. Daarom is dit altyd raadsaam en wenslik om, wanneer jy met ʼn trust handeldryf, altyd te vra vir ʼn afskrif van die trustakte om jouself daarvan te vergewis dat die trustees binne hulle magte handel. Die trustakte sal ook vir jou sê wie al die trustees is sodat jy kan seker maak al die trustees teken vir die transaksie. Die akte sal ook vir jou sê of die tipe transaksie vir daardie spesifieke trust toelaatbaar is.
Dis ʼn algemene reël dat trustees gesamentlik moet optree. Trustees kan nie individueel optree as daar met ʼn derde party gehandel word nie; hulle moet gesamentlik optree voordat die trust gebonde sal wees.
Aanvaar dus maar altyd dat die kontraktuele bevoegdhede van trustees gesamentlik met al die ander trustees uitgeoefen moet word tensy die trustakte spesifiek anders bepaal. Die trustakte moet die trustees magtig om ʼn volmag te kan gee aan ʼn spesifieke trustee om namens die trust te handel en die slegte nuus is dat die meeste trustaktes dit nie doen nie.
Die appèlhof het onlangs by twee geleenthede aangevoer dat waar die trustee alleen opgetree het by kontraksluiting, al is dit met die klaarblyklike of oënskynlike magtiging van die ander trustees, daardie kontrak ongeldig is want die trustakte magtig nie die ander trustees om ʼn enkel trustee te magtig nie. Die resolusie van die ander trustees gaan dus niks beteken nie, behalwe as dit gemagtig word deur die trustakte.
ʼn Derde party kan steeds ʼn trustee aanspreeklik hou as hy kan aantoon dat die trustee hom mislei het en daar wanvoorstelling betrokke was. Die derde party gaan dan daardie trustee in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik hou vir die skade.
Oops! We could not locate your form.