Deur Sanette Viljoen
In die saak van S v Bresler en Andere 2002 (2) SACR 18 (C) in die landdroshof van Bellville is mnr. Bresler se dogter aangekla van die oortreding van die spoedgrens op nasionale paaie. Sy is skuldig bevind en gevonnis tot R150 of 10 dae tronkstraf. Die dogter het waarskynlik op aandrang van haar vader teen die skuldigbevinding en die vonnis in die Kaapse Hoërhof geappelleer.
Mnr. Bresler was duidelik glad nie beïndruk met die vonnis teen sy dogter nie en het namens haar die hofstukke vir haar appèl geskryf. Hy het in geen onsekere taal nie sy misnoeë met die landdros se vonnis uitgespreek in die self-opgestelde stukke wat hy vir die appèl voorgelê het.
Sy woordkeuse in hierdie stukke was baie kras. Mnr. Bresler het onder andere gesê die landdros se uitspraak was “ Afrika- en bos-agtig” en “gek”. Hy het ook gevra dat die saak verwys word na “ ’n regte hof en nie hierdie Mickey Mouse-hof nie”. Mnr. Bresler het ook in die hofstukke beweer dat die landdros van Bellville alleenlik aangestel is omdat hy gekleurd is en glad nie bevoeg om sy werk te doen nie. Hy het ook ’n aanval geloods op lede van die departement van justisie wat nie dieselfde velkleur as hyself is nie. As gevolg van hierdie tirade in sy hofstukke is beide mnr. Bresler en sy dogter op die ou end aangekla van minagting van die hof, laster en naamskending.
In die Regter se uitspraak het sy genoem dat by ’n aanklag weens minagting van die hof dit nie die private belang, selfbeeld, status of waardigheid van die spesifieke hofbeampte is wat beskerm moet word nie, maar die gesag van die regsproses wat beskerm moet word.
In haar uitspraak bevestig die Regter dat mnr. Bresler nie ’n maatskaplike werker, lid van die parlementêre portefeuljekomitee gemoeid met justisie of ’n akademikus is en vanuit daardie oogpunt billike of redelike kritiek lewer nie. Hy was slegs ’n geïrriteerde en frustreerde litigant wat in groot pyn is. Die Regter voer aan dat dit duidelik is dat die bewerings wat hy gemaak het nie weldeurdagte kritiek op die spesifieke uitspraak is wat gebaseer op feite is nadat hy behoorlike navorsing gedoen het nie, maar eerder ’n onakkurate, ongegronde en beledigende aanval op ’n spesifieke individu en die regsproses in die geheel.
Die hof bevind verder dat dit nie ’n eenmalige uitbarsting was nie en dat mnr. Bresler by ten minste vier geleenthede binne ’n periode van 24 maande aangehou het met sy saak en verskeie verklarings en briewe met dieselfde trant geskryf het.
Mnr. Bresler is skuldig bevind aan minagting van die hof en gevonnis. Sy dogter is egter vrygespreek op al die aanklagte, omdat sy ten alle tye onder die onbehoorlike beïnvloeding van haar pa was.
Oops! We could not locate your form.