Inleiding
Ons, as Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, het verskeie probleme met die voorgestelde wysigings aan die Wet op Diensbillikheid (Employment Equity Act (EEA)), soos uiteengesit in ons kommentaar aan die portefeuljekomitee. Ons maak graag van hierdie geleentheid gebruik om te fokus op die kwessie wat ons die meeste pla, naamlik die wysigings aan artikel 42.
Ons siening van “verteenwoordigendheid”
Vanuit die staanspoor spreek ons ons sterkste teenkanting uit teen ’n benadering tot regstellende aksie wat daarop gemik is om die nasionale rassedemografie dwarsdeur Suid-Afrika te weerspieël, ongeag die demografie van ’n provinsie of streek.
Hierdie benadering eerbiedig nie Suid-Afrika se ryke kulturele verskeidenheid nie maar wil ’n Suid-Afrika hê wat orals dieselfde lyk.
Hierdie beleid lei tot die toepassing van absolute plafonne op minderhede indien hulle, volgens die nasionale rassedemografie, op enige plek oorverteenwoordig is.
Regstellende aksie is besig om tot ’n suiwer wiskundige benadering te ontwikkel en het alles te doen met ras en min te doen met korrektiewe aksie. Die persoon word uit regstellende aksie uitgehaal en met statistiese berekeninge vervang.
Hierdie benadering sal onvermydelik lei tot ’n situasie waar mense van bevordering uitgesluit word bloot op grond van hulle ras. Dit tas hul reg op waardigheid en gelykheid aan, en sodoende word minderhede uit die politieke stelsel vervreem.
Voorts maak die Grondwet voorsiening vir net twee gevalle waar ‘breë’ verteenwoordiging vereis word, naamlik artikel 195(1)(i) en artikel 174(2), wat die idee dat demografiese verteenwoordiging vereis en/of goedgekeur word, weerspreek. Artikel 195(1)(i) maak dit voorts duidelik dat ‘bestuurspraktyke … gebaseer (moet wees) op vermoë, objektiwiteit (en) billikheid’, wat verdere bevestiging is van die argument dat demografiese verteenwoordiging nie as die enigste faktor gebruik kan word om ‘billike’ verteenwoordiging te verkry nie.
Die effek van so ’n stelsel/ideologie
Die effek van so ’n stelsel/ideologie is reeds sigbaar in ons land en kan die beste getoon word aan die hand van die hofsaak van Mrs Jennila Naidoo v the SAPS[1], waar die hof die staat se argument soos volg aangeteken het:
Die berekening wat gebruik is om die ras- en geslagstoewysing te bepaal, is soos volg verduidelik: 19 posisies op vlak 14 word vermenigvuldig met die nasionale demografiese syfer vir ’n spesifieke rasgroep, bv 19 posisies x 79% Afrikane = 15 van 19 poste moet deur Afrikane gevul word, dan 15 x 70% = 11 posisies moet deur manlike Afrikane gevul word minus die huidige stand van 7, wat beteken daar is ’n tekort van 4 manlike Afrikane.
Vir Indiërvroue is die berekening 19 x 2,5% = 0,5 posisies moet deur Indiërs gevul word, dan 0,5 x 30% = 0,1 Indiërvroue en dit word tot nul afgerond. Van die vyf beskikbare posisies kan 0,125 na Indiërs gaan x 30% geslagstoewysing, wat beteken 0,037 kan aan Indiërvroue toegewys word en dit word tot nul afgerond. (Vertaling)
Die Wes-Kaap is nog ’n goeie voorbeeld van die gevolge van hierdie irrasionele benadering tot regstellende aksie.
Landwyd maak bruin Suid-Afrikaners ongeveer 10% van die rasdemografie uit, maar in die Wes-Kaap vorm hulle nagenoeg 53% van die demografiese samestelling.
As die nasionale demografie op die Wes-Kaap toegepas word, sal daar ongeveer ’n miljoen bruin mense te veel in die Wes-Kaap wees. Volgens hierdie benadering sal hulle nie regte hê waar hulle woon nie maar sal hulle na ander provinsies moet verhuis om regte te kry. By implikasie sal ’n massiewe maatskaplike manipulasieprogram en gedwonge verskuiwings nodig wees om die staat se oogmerke met regstellende aksie te behaal.
Hierdie benadering is ook bevestig deur die staat se advokaat in die dringende aansoek wat Solidariteit namens mnr. February gebring het, waar daar bevestig is dat bruin mense moet skuif na provinsies waar hulle onderverteenwoordig is.
Die huidige artikel 42
Dit is duidelik dat die doel van artikel 42 is om as ’n maatstaf te dien om te bepaal of ’n werkgewer billikheid in ooreenstemming met die Wet toepas. Benewens die faktore wat in artikel 15 bedoel word, sit dit ’n aantal ander faktore uiteen wat almal in aanmerking geneem moet word.
Die hof se siening van die implementering van artikel 42 is uitgedruk in die saak van Director General of Labour & another v Comair[2], waar die hof soos volg beslis het:
Dit is duidelik dat die EEA die DG gelas om ’n aantal faktore in aanmerking te neem voordat ’n besluit geneem word. Ek stem saam met die betoog dat hierdie matriks van oorwegings die beampte toelaat en trouens dwing om ’n gesonde oordeel te vel wanneer voldoening aan die EEA geassesseer word. Wat ook duidelik is uit hierdie artikel is die feit dat die vereistes of faktore kumulatief opgeweeg moet word. In hierdie verband bepaal die artikel spesifiek dat ‘al’ die faktore in aanmerking geneem moet word. ’n Arbeidsinspekteur of die DG kan dus nie diskresie uitoefen sonder om die faktore in artikel 15 van die EEA en dié wat in artikel 42 van die EEA genoem word, in aanmerking te neem nie. (Vertaling)
Nie net het werkgewers duidelike en spesifieke riglyne oor numeriese doelwitte en billike verteenwoordiging nie, maar die direkteur-generaal word ook deur hierdie spesifieke riglyne gebind by die assessering van voldoening.
Hierdie faktore is die statutêre wigte en teenwigte van die implementering van regstellendeaksiemaatreëls, waarsonder elke enkele hof op ’n subjektiewe vlak sal moet bepaal of daar aan die Wet voldoen is of nie.
Die gewysigde artikel 42
Uit die wysigings aan artikel 42(1) blyk dit duidelik dat dit nie verpligtend sal wees om die faktore wat in artikel 42 genoem word, in aanmerking te neem nie en dat nie “al” die faktore oorweeg hoef te word nie.
Voorts is dit duidelik dat die enigste oorblywende faktor van artikel 42(a)(i) die demografiese profiele van die nasionale en regionale ekonomies aktiewe bevolkings is.
Die bevoegdhede wat ingevolge artikel 42(2) en (3) aan die minister verleen word, maak egter die bepalings van artikel 42(1) in die geheel nietig deurdat die minister die omstandighede kan bepaal waarin ’n werkgewer se voldoening bepaal moet word met verwysing na die demografiese profiel van óf die nasionale óf die regionale ekonomies aktiewe bevolking.
Wat sal die effek van hierdie wysigings wees?
Ten slotte
Die wysigings van die Wet, en in die besonder die wysigings van artikel 42, is niks anders nie as ’n poging om wetgewing in ooreenstemming te bring met huidige praktyke en instruksies van die regering dat elke provinsie en elke werkgewer die nasionale demografiese profiel van die land moet weerspieël.
Ons hoop dit sal nie profetiese woorde wees nie, maar as hierdie wysigings aanvaar word, sal ons ’n land sien wat verswelg word deur rasse-obsessie, ’n regering wat gedwonge verskuiwings op grond van ras goedkeur, menseregtemisdrywe soos laas 20 jaar gelede gesien is, ’n algehele mislukking van dienslewering deur die staat en ’n nasie wat deur ras verdeel is.
Hierdie wysigings is moreel verkeerd omrede die gevolge wat dit sal hê, en ʼn mens kan nie iets wat moreel verkeerd is, regverdig deur dit ‘n statutêre verpligting te maak nie.
[1] JS566/2011
[2] [2009] 11 BLLR 1063 (LC)
Oops! We could not locate your form.