Dit is algemeen bekend dat Solidariteit in ’n lang stryd teen die regering se toepassing van regstellende aksie gewikkel was en is. Oor die afgelope tien jaar het ons talle diskriminasiesake voor die arbeidshof, die arbeidsappèlhof, die hooggeregshof en die appèlhof en selfs die konstitusionele hof gebring.
’n Besluit is in 2012 geneem om die legitimiteit van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se diensbillikheidsplan uit te daag. Dit is die eerste sodanige uitdaging sedert die Wet op Diensbillikheid in 1998 uitgevaardig is.
Die saak is in Junie 2014 in die arbeidshof aangehoor en uitspraak is in Januarie 2016 (19 maande later) gelewer.
Die stel van numeriese teikens deur die SAPD-bestuur vorm die basis van Solidariteit se aanval op die SAPD se diensbillikheidsplan. Ons is van mening dat dit neerkom op ontoelaatbare kwotas soos wat spesifiek ingevolge artikel 15(3) van die Wet op Diensbillikheid verbied word.
In die uitspraak kom die regter tot die gevolgtrekking dat die SAPD se diensbillikheidsplan vir 2010 tot 2014 ongeldig en van nul en gener waarde is omdat dit strydig is met:
Nog ’n belangrike kwessie wat die regter beklemtoon het, is dat alle aangewese indiwidue ingevolge die Wet op Diensbillikheid as een groep hanteer behoort te word. Die wet laat byvoorbeeld nie toe dat mense in groepe van swart, bruin of Indiër onderverdeel word nie, maar vereis dat dié rasse almal as “swart” hanteer moet word.
Staatsdepartemente is toenemend besig om te onderskei tussen indiwidue in die aangewese groep deur daarop aanspraak te maak dat “swart” mense meer onder die apartheidstelsel gely het as “Indiërs” of “bruin mense,” wat dan ’n indeling op grond van ras teweegbring. Die regter se bevinding dat bogenoemde rassegroepe almal as “swart” geag moet word, sal staatsdepartemente dwing om hul differensiasiepraktyke te staak.
Die regter het ook die kwessie geopper of die gebruikmaking van numeriese teikens in die SAPD se plan neerkom op die oplegging van kwotas neerkom, ’n praktyk wat strydig is met artikel 15(3) van die Wet op Diensbillikheid. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat die SAPD se plan nie die omstandighede uiteensit waarin ’n afwyking van die plan aanvaarbaar sou wees nie. Die gevolgtrekking wat gemaak kan word, is dat die teikens onbuigsaam is, wat op sy beurt op ’n kwota neerkom.
Die regter het ook bevind dat die plan geen leiding aan lede van SAPD-bestuur wat gemoeid is met die maak van aanstellings en bevorderings gee nie oor hoe en op watter basis dit aanvaarbaar sal wees om aanbevelings of besluite te maak wat nie die plan se numeriese teikens vir verteenwoordiging bevorder nie. Die plan meld inderwaarheid dat bestuurders se prestasie-evaluerings negatief geraak sou word indien hulle in gebreke sou bly om regstellende aksie toe te pas soos wat dit deur die plan voorgeskryf word.
Die uitspraak beklemtoon dat die gebruikmaking van slegs die nasionale demografie om numeriese teikens te stel nie deur die Wet op Diensbillikheid gesanksioneer word nie en as sodanig is dit onwettig. Die uitspraak meld verder dat gebruikmaking van die nasionale rassedemograie en / of die nasionale ekonomiese aktiewe bevolking in provinsies nie deur die Wet op Diensbillikheid goedgekeur word nie en is as sodanig onwettig. Die uitspraak meld dat ’n diensbillikheidsplan wat nie voorsiening maak vir die afwyking van teikens nie op ’n kwotastelsel neerkom wat deur die Wet of Diensbillikheid verbied word en wat dus onwettig is.
Hierdie uitspraak is ’n deurslaggewende oorwinning vir Solidariteit in die stryd teen onregverdige diskriminasie. Alhoewel die uitspraak betrekking het op die SAPD se plan vir 2010 tot 2014, wat in Desember 2014 verval het, is die kwessies wat in die uitspraak beklemtoon is, ook van toepassing op die SAPD se nuwe diensbillikheidsplan vir die tydperk 1 Januarie 2015 tot 21 Desember 2019 wat op 20 Februarie 2015 deur die nasionale kommissaris van polisie goedgekeur is.
Solidariteit pleeg tans oorleg met ons regsadviseurs oor die pad vorentoe om die nuwe plan moontlik aan te vat.
Oops! We could not locate your form.