Deur Driescha Miessner
Vraag:
Ek wil graag meer weet van stres in die werkplek.
Antwoord:
Die ekonomiese geskiedenis van die afgelope aantal jare vertel die verhaal van personeelvermindering, daling in produktiwiteit, verlies aan innovasie en ondernemings se onvermoë om by die veranderende omgewing aan te pas. Oorlewing en groei is regstreeks afhanklik van ʼn organisasiekultuur met ʼn positiewe klimaat en waardesisteem.
Werknemers staar meer beroeps- en werkveranderinge in die gesig as ooit tevore. Organisasies vereis van hulle werknemers om meer produktief te wees, om sensitief te wees vir verskeidenheid (diversiteit), om saam te werk in spanne, innoverend te wees, meer verantwoordelikheid te neem, langer ure te werk en om voortdurende verandering in die werkplek suksesvol te kan hanteer.
Faktore soos tegnologiese ontwikkeling, globalisering, diversiteit, korter produktiwiteitslewe, die wisselvalligheid van verbruikerseise, aanhoudende en radikale omgewingsveranderinge en selfs net die rit na en van die werkplek stel al hoe meer eise en plaas al hoe meer druk op werknemers. Druk op werknemers lei tot verhoogde stresvlakke, wat ʼn impak op werknemers se gesondheid het.
Kortliks werk die impak van stres so: Die bynier skei adrenalien en die streshormoon, kortisol in die bloedstroom af. Hormone wat onder stresvolle omstandighede afgeskei word, veroorsaak die algemeen bekende veg-of-vlug-reaksie wat in die ou dae die mens se oorlewing verseker het – dink aan kos jag vir aandete in die steentydperk, of weghardloop vir ʼn aanvallende ondier!
Kortisol is in die kort termyn voordelig vir die liggaam omdat dit jou in staat stel om toepaslik in noodgevalle op te tree, soos wanneer jy vir jou lewe veg of weghardloop van gevaar. Wanneer ons liggame egter uitermate lang tye aan kortisol blootgestel word, ontstaan psigosomatiese siektes. Dit is fisiese siektes wat ʼn sielkundige oorsprong het.
Navorsing het bewys dat stresvolle emosies nie net sekere siektes kan veroorsaak nie, maar ook die liggaam se immuunstelsel onderdruk en die vermoë om te herstel negatief beïnvloed.
Psigosomatiese siektetoestande wat met hoë stresvlakke geassosieer word, is onder andere spanningshoofpyne, slapeloosheid, spasma in die rug, nek en skouers, allergieë, maagsere, hartsiektes, migraine, klierkoors, prikkelbarederm-sindroom, paniekaanvalle, swak konsentrasie en depressie.
Die sentrale rol wat emosies in die stresproses speel, ontvang toenemend meer erkenning. Daar word aangevoer dat individue stres en spanning sal ondervind indien hulle ʼn situasie as negatief evalueer.
Emosionele intelligensie (EI) het gelei tot ʼn nuwe bewustheid van die rol wat emosies in die werkplek speel. EI behels die uitdrukking, erkenning, begrip en bestuur van emosies.
Navorsing toon dat EI ʼn buffer teen stres vorm, en diegene met hoër vlakke van EI ervaar beter algehele gesondheid.
Werkgewers moet deurlopend in werknemers se welstand belê ten einde die voorkoms en gevolge van stres in die werksplek te verminder.
Oops! We could not locate your form.