Deur Sanette Viljoen
Daar bestaan nie iets in ons reg soos ʼn slapende trustee nie. Indien jy ʼn trustee van ʼn trust is, rus daar baie pligte en verantwoordelikhede op jou. Soms besef persone nie dat trusteeskap ook regsverpligtinge meebring waarvan hul deeglik bewus moet wees nie.
In die saak van Steyn & Andere NNO v Block Pave (Edms.) Bpk. het die trustees van die Steyn Trust aksie ingestel teen Block Pave vir agterstallige huurgeld. Block Pave het egter verskeie tegniese punte geopper waarvan die belangrikste is dat die korrekte prosedure nie gevolg is toe die aksie ingestel is nie. Dit blyk uit die feite dat slegs twee trustees van die trust ʼn vergadering bygewoon het waartydens daar besluit is om te dagvaar vir die agterstallige huurgeld. Die derde trustee was reeds vir ʼn redelike tydperk deur die ander trustees opsygeskuif en gemarginaliseer en was nie meer deel van die besluite van die trust nie. Die derde trustee was nie eers bewus van die vergadering waarop hulle besluit het om Block Pave te dagvaar nie.
Die hof bevind ten gunste van Block Pave en beklemtoon dat dit vir ʼn trust, om behoorlik te funksioneer, noodsaaklik is dat alle trustees deurentyd volledig moet deelneem aan die aktiwiteite van die trust. Dit beteken dus dat een van die trustees nie eenkant toe geskuif kan word of geïgnoreer kan word nie.
By behoorlike interpretasie van die beslissing wil dit dus voorkom asof die regter aantoon dat die derde trustee in elk geval by sodanige vergadering uitgestem sou gewees het indien hy wel die vergadering bygewoon het, maar selfs hierdie feit maak nie dat die trust die verantwoordelikheid kan ontwyk om al die trustees teenwoordig te hê by die besluitneming nie.
Die veiligste roete vir alle trusts is om trustees te erken en om seker te maak dat alle ooreenkomste deur almal bekragtig word. Indien een trustee nie behoorlik kennis dra van die inhoud van ʼn kontrak nie, kan daardie kontrak ongeldig verklaar word.
Oops! We could not locate your form.