Deur Sanette Viljoen
Feitestel: Sannie bly reeds die afgelope vyf jaar in ʼn ouetehuis. Sy is op 5 Januarie opgeneem in die hospitaal. Op 29 Januarie is Sannie oorlede in die hospitaal. Die ouetehuis eis nou betaling van huurgeld vir die maand Januarie, asook die maand Februarie, omdat die huurkontrak tussen Sannie en die ouetehuis bepaal dat Sannie ʼn maand kennis moet gee voordat sy die kontrak beëindig. Volgens die ouetehuis is Februarie dus Sannie se kennismaand. Wat gebeur as ʼn huurder in ʼn ouetehuis sterf, sonder om ʼn maand kennis te gee?
Antwoord: Die verhuurder, in hierdie geval die ouetehuis, sal wel ʼn eis vir een maand se huurgeld teen die bestorwe boedel hê.
Soos in alle ander gevalle neem die boedel die plek van die oorledene in en die boedel is dus gebonde aan die kontrakte wat die oorledene aangegaan het voor haar afsterwe. As die oorledene ʼn kontrak gehad het waarin daar een maand kennis gegee moet word of selfs ʼn langtermynkontrak wat van maand tot maand sou loop, moet die huurder een kalendermaand kennis gee. Dit is dus binne die verhuurder se regte om huurgeld te eis vir die kennismaand.
Die eksekuteur van die bestorwe boedel sal dan hierdie eis hanteer, wat teen die boedel ingestel word. Die familie van die oorledene hoef nie hierdie geld te betaal namens die oorledene nie, die geld word van die boedel geëis.
Elke kontrak het verskillende bepalings in verband met die kennistydperk, en ook in die geval van dood. Maak dus seker wat die huurkontrak bepaal voordat u dit onderteken. Dit sal ideaal wees indien die huurkontrak bepaal dat daar geen kennistydperk nodig is in die geval van dood nie.
Oops! We could not locate your form.