Deur Sanette Viljoen
In die verlede was daar verskeie gevalle waar ’n prokureur verdwyn het met ʼn kliënt se geld in sy trustrekening. Gelukkig is daar ’n Getrouheidsfonds vir prokureurs, genaamd die “Legal Practice Fidelity Fund”, wat in sulke gevalle tot die redding kom van mense wie se geld op so ʼn wyse verduister of gesteel is.
Enige iemand wat al vaste eiendom soos ’n huis gekoop het, sal saamstem dat dit ’n redelike kommerwekkende ervaring is om so baie geld aan ’n prokureur se rekening te toevertrou. Wat gebeur as jou huis se koopgeld by die prokureur inbetaal is en daardie geld verduister of gesteel word? Moet die oordrag van die eiendom dan steeds voortgaan?
In die Wes-Kaapse Hooggeregshof is hierdie vraag gevra in die saak van Agu v Krige and Others [2019] ZAWCHC 46. Hier het die koopkontrak bepaal dat die koopprys aan die oordragprokureur betaal moes word. Nadat die koper die koopprys betaal het, het die prokureur met die trustgeld verdwyn. Die hof moes voorts besluit of behoorlike betaling van die koopprys plaasgevind het. Die koper het tog presteer en die geld by die oordragprokureur inbetaal. Die verkoper het egter nie die koopsom ontvang nie en wou daarom nie die eiendom opgee nie.
Die koper het geargumenteer dat sy haar kontraktuele verpligtinge behoorlik nagekom het, soos in die koopkontrak uiteengesit, gevolglik het sy oordrag van die eiendom vanaf die verkoper vereis. Die verkoper het weer geargumenteer dat die koopooreenkoms net die wyse van betaling voorgeskryf het deurdat die koopsom eers in die oordragprokureur se rekening inbetaal moes word en dan eers later, nadat die eiendom geregistreer is, aan die verkoper self betaal moes word. Verder het die verkoper geargumenteer dat omdat hy nog nie die koopprys van die prokureur ontvang het nie hy nie gedwing kon word om die eiendom oor te dra nie.
Die hof was daarvan oortuig dat die oordragprokureur behoorlik gemagtig was om namens die verkoper op te tree en die koopprys te ontvang. Tydens die verhoor het dit ook aan die lig gekom dat die verkoper aangedring het, soos wat hy geregtig was om te doen, dat sy oordragprokureur gebruik moes word en die koopooreenkoms het dit ook so bepaal.
Gevolglik het die hof tot die gevolgtrekking gekom dat die oordragprokureur eerstens aangestel was as die verkoper se agent en tweedens gemagtig was om die koopprys namens die verkoper te ontvang. Die verkoper moes dus sy eiendom, sonder ontvangs van die koopprys, oordra aan die koper. Die hof het in hierdie geval gewaarsku dat hierdie uitspraak nie ’n presedent moet skep dat betaling aan ’n oordragprokureur altyd as betaling aan die verkoper gesien sal word nie. Daar moet eers vasgestel word of die prokureur as die verkoper se agent opgetree het al dan nie. As die koper die oordragprokureur gekies het, sou dit baie moeilik wees om te argumenteer dat die prokureur as die verkoper se agent opgetree het.
Die verkoper kan egter vanaf die Getrouheidsfonds eis vir die verliese wat hy gelei het. Die eiser moet egter eers al sy ander remedies uitwin en probeer om die geld vanaf die skuldige prokureur terug te kry en slegs nadat hy kan bewys dat dit nie moontlik is nie, sal hy deur die Getrouheidsfonds vergoed word.
Oops! We could not locate your form.