In die saak South African Airways v Van Vuuren het die onderskeid tussen kompensasie (“compensation”) en skadevergoeding (“damages”) in die uitspraak van die arbeidsappèlhof ter sprake gekom. Dit was duidelik dat die twee woorde dikwels afwisselend gebruik word vanweë die dubbelsinnigheid in betekenis. Dit sal vanselfsprekend die oordeel van die hof beïnvloed in besluite oor die toeken van skadevergoeding en kompensasie.
Artikel 50(1) van die Wet op Diensbillikheid (No. 55 van 1998) (die sogenaamde “EEA”) verleen aan die arbeidshof die bevoegdheid om enige geskikte bevel, met inbegrip van ʼn bevel vir kompensasie en skadevergoeding, in enige omstandighede wat die EEA kan voorsien, uit te vaardig. In artikel 50(2) word eise van onbillike diskriminasie breedvoerig behandel en die arbeidshof word dienooreenkomstig bemagtig.
Die hof het beslis dat die verwarring ontstaan het in die bespreking van die term “kompensasie” soos dit gebruik is in artikel 193 van die Wet op Arbeidsverhoudinge; dit sluit vermoënskade sowel as nie-vermoënskade in, met die gevolg dat die onderskeid tussen skadevergoeding en kompensasie vir dieselfde soort verlies of benadeling wegval. Dié verwarring het blykbaar die nodige oordeelkundigheid aangetas. Aan die ander kant word daar in die EEA duidelik onderskeid getref tussen die twee betekenisse.
“In die Wet op Diensbillikheid,” het die regter gesê,” het ‘skadevergoeding’ betrekking op ʼn werklike of potensiële monetêre verlies (vermoënskade), en ‘kompensasie’ dui op die toekenning van ʼn bedrag as ʼn solatium of troosgeld (nie-vermoënskade). Dit is denkbaar dat gevalle van onbillike diskriminasie werklike of vermoënskade vir die eiser kan meebring, asook gekrenkte gevoelens of nie-vermoënskade.”
“Wanneer ʼn akwiliaanse geding oorweeg word, moet die eiser die werklike verlies wat gely is, kan bewys sodat skadevergoeding toegeken kan word. Die geding word aangewend om die eiser terug te plaas in die posisie waarin hy sou gewees het indien hy nie die skade gely het nie. Kompensasie is egter ʼn solatium wat toegestaan word om die gegriefde of gekrenkte gevoelens van die eiser te versag.”
In sommige gevalle het die hof ʼn diskresionêre plig om skadevergoeding sowel as kompensasie toe te ken, welke toekenning paslik, regverdig en onpartydig moet wees. Skadevergoeding is dus bedoel om die klaer terug te plaas in die posisie waarin hy sou gewees het as dit nie was vir die onbillike diskriminasie nie; kompensasie word bedoel as “troosgeld” vir die klaer se aangetaste waardigheid of geskonde of gekrenkte gevoelens.
Die klaer in hierdie saak het R100 000 vir skadevergoeding geëis; die hof het egter ʼn bedrag van R1,4 miljoen toegeken waarvan slegs R50 000 vir skadevergoeding was.
ʼn Hof wat die toestaan en toeken van skadevergoeding en kompensasie vir onbillike diskriminasie oorweeg, moet gewis tussen die twee begrippe onderskei en die bedrag van die toekenning dienooreenkomstig bereken.
Outeur: Annika Labuschagne
Oops! We could not locate your form.