Deur Sanette Viljoen
Vir baie mense in Suid-Afrika is ’n huurhuis/-woonstel die enigste opsie. Die rede hiervoor kan finansieel wees of dalk die aard van sy/haar werk. Daar is egter steeds baie onsekerheid oor die bepalings van ’n huurkontrak, veral as dit kom by die beëindiging daarvan. In hierdie artikel word spesifiek bespreek of jou huurkontrak eindig as die Verhuurder tot sterwe gekom het.
Oor die algemeen kom ’n huurkontrak nie tot ’n einde met die afsterwe van die Verhuurder nie. Die eksekuteur van die Verhuurder se boedel sal die administrasie van die eiendom oorneem. Die eksekuteur is dan ook daarvoor verantwoordelik om eiendom in die boedel aan die erfgename oor te dra. Die regte en verpligtinge kragtens die huurkontrak word dan oorgedra aan die erfgename, mits hulle die erfporsie aanvaar.
Dit is egter baie belangrik om daarop te let dat die bepalings van die huurkontrak die beëindiging daarvan bepaal. Dit is daarom belangrik om jou huurkontrak behoorlik deur te lees om sodoende te weet in watter omstandighede die kontrak beëindig kan word.
Indien die huurkontrak spesifiek bepaal dat die kontrak tot ’n einde kom by die afsterwe van die Verhuurder, sal hierdie bepaling wel van toepassing wees wanneer die Verhuurder sterf. Die Huurder sal wel ’n billike tydperk gegun word om die eiendom te verlaat.
Dit is derhalwe belangrik om te kyk na die bepalings van die kontrak. Dit sal ook raadsaam wees indien die eksekuteur of die erfgenaam kontak maak met die huurders aangaande die voortsetting van die huurkontrak.
Oops! We could not locate your form.