Deur Sanette Viljoen
Piet het na die laaste droogte geld nodig om mielies te plant. Hy besit ʼn plaas en hy huur nog ʼn plaas van Koos. Piet is egter agterstallig met sy huurgeld en hy sê vir Koos hy sal die agterstallige huurgeld na die oes betaal. Die bank wou sekuriteit hê voordat hulle vir hom ʼn lening gee om die mielies te plant en hulle registreer ʼn notariële verband oor al Piet se roerende eiendom. Piet kry sy geld en hy plant die mielies. Die droogte gaan egter voort en die oes in ʼn mislukking. Piet kan nie die bank terugbetaal nie en hy kan ook nie vir Koos die agterstallige huurgeld betaal nie. Koos nader ʼn prokureur en wil met ʼn huurinterdik beslag lê op Piet se trekkers en implemente. Die bank het egter ʼn notariële verband oor al Piet se roerende eiendom. Wat geniet nou voorkeur, die notariële verband van die bank of Koos se huurinterdik?
Die doel van ʼn verband oor onroerende goed of ʼn notariële verband oor roerende goed is dat die verbandhouer eerste betaal moet word nadat die eksekusieveiling gehou is en daarna word die ander skuldeisers betaal.
Daar is egter ook ʼn voorkeur by ʼn huurinterdik. Die verhuurder kan beslag lê op die bates op die huurperseel. Elke verhuurder het volgens ons reg outomaties, sonder enige registrasiehandelinge in die aktekantoor, ʼn voorkeur ten opsigte van die roerende bates op die huurperseel. In regsterme word daarna verwys as die verhuurder se hipoteek.
Die vraag is nou, wie gaan voorkeur geniet op Piet se bates – die bank of die verhuurder? Hierdie vraag se antwoord sal elke keer afhang van die feite van elke saak. In ons bogenoemde feitestel is die kans goed dat die verhuurder voorkeur gaan geniet bo die bank. Die rede hiervoor is bloot omdat die verhuurder se reg oor die bates vroeër geskep is as die bank s’n. As die trekkers en plaasimplemente in eksekusie verkoop word, sal die verhuurder eerste sy geld kan terugkry en daarna die bank.
Daarom is dit van kardinale belang dat ʼn verhuurder eerste sy reg moet afteken voordat ʼn notariële verband oor roerende goedere geregistreer word.
Oops! We could not locate your form.