Wat is menseroof?

Donderdag, Januarie 26th, 2017

 

Sanette de Jager

 

Die misdaad menseroof kom gereeld voor in flieks en storieboeke, maar min mense besef hoe gereeld dit op ons eie bodem plaasvind. Menseroof vind daagliks plaas. Volwassenes sowel as kinders is die slagoffers van hierdie misdaad. Elke pleger van menseroof het sy eie motief waarom hy ’n ander persoon se vryheid van beweging inperk sonder die bevoegdheid of toestemming om dit te doen.

’n Paar voorbeelde hiervan is: ’n kind wat ontvoer word, hetsy vir die betaling van ’n losprys of aanhouding as gevolg van die een of ander obsessie, of die aanhouding van ’n volwassene weens ’n besigheidstransaksie wat verkeerd geloop het of as gevolg van ’n groot bedrag geld. Sekere plegers het die een of ander obsessie om mense aan te hou en vir hulle te sorg.

Die groot vraag is egter, wat presies is menseroof? In hierdie artikel word die elemente van hierdie misdaad verduidelik.

Menseroof is die wederregtelike en opsetlike ontneming van ʼn persoon se vryheid van beweging en, indien die persoon ’n kind is, die ontneming van ’n ouer van sy beheer oor die kind.

Daar is wel soortgelyke misdade wat soms met menseroof verwar word. Hieronder val kinderroof, wat slegs ’n manifestasie van menseroof is, en ontvoering, wat gepleeg word teen ʼn ouer se gesagsreg oor ʼn minderjarige en nie teen die bewegingsvryheid van ʼn mens nie. Sommige howe sê dat waar menseroof gepleeg word met die bedoeling om ʼn losprys te eis, dit afsonderlik deur die wetgewer gestraf moet word.

Met “vryheid” word bedoel die ander persoon se bewegingsvryheid en dit is ʼn regsbeskermde belang. Met “kind” word bedoel ʼn  minderjarige. ʼn Ouer kan nooit skuldig bevind word aan ontvoering weens die wegneem van sy of haar eie kind nie. ʼn Geskeide ouer kan wel skuldig bevind word aan minagting van die hof as hy of sy die kind uit die wettige bewaring van die ander ouer neem.

Daar is nie sekerheid in regspraak oor hoe lank die vryheidsontneming moet duur nie. Die meeste gesagsbronne is van mening dat die tydsduur nie ʼn wesenlike element is nie.

As daar gekyk word na die verskillende elemente van die misdaad kan wederregtelike vryheidsontneming geregverdig word deur amptelike bevoegdheid of deur toestemming (waar die party meerderjarig is). In die geval van opset moet die persoon bewus wees van die feit dat die ontvoerde of sy of haar ouers nie tot die vryheidsontneming toegestem het nie. Die pleger hoef nie die opset te hê om die bewegingsvryheid blywend te ontneem nie; dit is voldoende vir die pleger om die opset te hê om bewegingsvryheid te ontneem vir ʼn sekere aantal ure of totdat ʼn losprys betaal is.

Dit is belangrik om te besef dat die pleger se motief nie van belang is vir die doeleindes van die vasstelling van aanspreeklikheid vir die misdaad nie.

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Kan ek erf as ek nie wettig aangeneem is nie?
Sanette Viljoen   Sannie is ’n enigste kind en word grootgemaak deur ouers wat nie haar biologiese ouers is nie. Alhoewel sy hulle as haar ware ouers beskou, het hulle haar nooit wettig aangeneem nie. Albei haar ouers is sieklik en besit nie ’n testament nie. Sannie is bekommerd dat sy hulle besittings sal verloor […]
Die doel van verklarings of beëdigde verklarings by verhore
Johan Nell   ʼn Verklaring is niks meer nie as ʼn weergawe van gebeure en kan die waarheid wees of nie en is nie onder eed of affirmasie nie, terwyl ʼn beëdigde verklaring onder eed of affirmasie voor ʼn kommissaris van ede afgelê is en voorgee om die waarheid te wees. Nou moet ons kyk […]
Is jou ‘domicilium’ slegs jou adres?
Sanette Viljoen Elke persoon wat al ’n kontrak geteken het of ʼn vorm ingevul het, het op die klousule domicilium citandi et executandi afgekom. Selfs die eenvoudigste vorms, soos die vorm by jou eerste doktersbesoek, bevat hierdie klousule. As ’n persoon gevra sou word wat hierdie frase beteken, is die mees algemene antwoord: “Dit is […]
1 2 3 44