Deur Sanette Viljoen
Wanneer jy ’n trust as ’n entiteit oorweeg, is dit eerstens belangrik om die wese van ’n trust te verstaan. Met ander woorde, wat is ’n trust?
’n Trust is ’n ooreenkoms/kontrak tussen die oprigter van die trust en die trustees van die trust ten behoewe van ’n derde, naamlik die begunstigdes van die trust.
Die oprigter is dus die persoon wat die trust stig, die trustees is die persone wat die trust beheer en namens die trust optree en die begunstigdes is die persone wat voordeel verkry uit die trust.
Anders as ’n maatskappy word ’n trust nie opgerig en geskep kragtens die bepalings van wetgewing nie, maar deur middel van ’n trustakte. Hierdie dokument dien as ’n stigtingsdokument. In wese neem hierdie trustakte dus die vorm aan van ’n kontraktuele ooreenkoms tussen die oprigter, trustees en begunstigdes.
Die trustees is slegs geregtig om met die trust te handel volgens die bepalings vervat in die trustakte. Indien die trustakte die trustees verhoed om sekere transaksies aan te gaan of om op ’n sekere manier op te tree, sal dit onregmatig wees indien ʼn trustee dit wel doen. Die stigter, ander trustees en begunstigdes kan in so geval optree teen die onregmatige handeling van daardie trustee, deur die hof te nader.
Daar moet vervolgens ook na die trustakte gekyk word vir leiding rondom hoe die trustakte gewysig kan word, indien hierdie behoefte sou ontstaan. Die trustakte verhoed byvoorbeeld die trustees om vaste eiendom te koop, maar die hoofdoel waarvoor die trust gestig was, is juis hiervoor. Duidelik sal die trustakte gewysig moet word vir hierdie doel.
Indien jy van plan is om ’n trust te stig, sal dit raadsaam wees om jou prokureur te nader, spesifiek vir die oprigting van ’n gepaste trustakte om die doel van die trust te regverdig.
Oops! We could not locate your form.