Wat sê die wet oor my diere se gesondheid?

Woensdag, Januarie 11th, 2017

Sanette Viljoen

 

 

Die Wet op Dieregesondheid, Wet nr. 7 van 2002, (hierna die Wet genoem) plaas ‘n verantwoordelikheid op die Staat om te verseker dat dieresiektes en parasiete nie versprei nie en skryf maatreëls voor om dieregesondheid te bevorder.

Daar is hoofsaaklik twee redes hoekom dieregesondheid bevorder moet word. Eerstens omdat sekere dieresiektes na die mens kan versprei en tweedens omdat ons ekonomie grootliks bevorder word deur handel met diere, veral wild.

Die Wet bevat ‘n lys van gekontroleerde dieresiektes. Sodra diere positief getoets word vir een van hierdie siektes, skryf die Wet sekere maatreëls voor wat deur die Staat, spesifiek die relevante staatsveearts, gevolg moet word en die stappe wat geneem moet word om te verseker dat die siekte nie versprei nie. Hier is ‘n paar van die siektes op die lys:

  • Bek-en-klou-seer (gesplete-hoefdiere)
  • Newcastlesiekte (pluimvee en ander voëls)
  • Hondsdolheid (alle diere)
  • Salmonella (pluimvee en ander voëls)
  • Runderpes (gesplete-hoefdiere, spesifiek beeste)
  • Tuberkulose (alle diere, uitsluitend vis, reptiele en amfibieë)

Elke distrik in ‘n provinsie beskik oor ‘n staatsveearts. Dit is hulle werk om te verseker dat ‘n siekte nie versprei nie. Die Wet skryf maatreëls voor vir elke gekontroleerde siekte, wat kan insluit isolasie en toetse, inentings, dip en ook die wegdoen van besmette diere met hoogs aansteeklike en gevaarlike siektes.

Baie streng maatreëls is van toepassing as dit kom by die invoer en uitvoer van diere. Die hoofrede hiervoor is om te voorkom dat siektes nie oor internasionale grense versprei nie. Volgens die Wet mag geen dier die land binnekom sonder ‘n permit nie. Die permit moet bekom word voordat die dier na Suid-Afrika gestuur word. Diere mag ook slegs die land betree op gespesifiseerde plekke genoem in die Doeane- en Aksynswet, Wet nr. 91 van 1964.

Om ‘n permit te bekom moet met sekerheid vasgestel word dat die dier nie enige gekontroleerde siekte of ander siekte dra nie. Om hierdie rede word alle diere, insluitend troeteldiere, deur ‘n staatsveearts getoets wanneer hulle arriveer en voordat hulle die land betree. Die Wet bepaal dat die dier eers by die doeane aangehou moet word vir hierdie toetse. Die Direkteur van Dieregesondheid moet dan skriftelike toestemming gee vir die dier om uit aanhouding vrygelaat te mag word en die land se grense te betree.

Die Wet plaas ‘n verantwoordelikheid op diere-eienaars en op eienaars van grond waarop diere aangehou word. Dit sluit in om te voorkom dat diere besmet word en dat siektes versprei. Indien ‘n gekontroleerde siekte wel uitbreek, moet dit dadelik aan die betrokke staatsveearts gerapporteer word en die voorgeskrewe maatreëls moet in plek gestel word. Hierdie Wet gee ook aan die Staat die mag om rondloperdiere van kant te maak onder sekere omstandighede.

Dit is uiters belangrik dat die Staat hulle pligte soos voorgeskryf in die Wet sal nakom, nie net om die gesondheid van diere te bewaar en te beskerm nie, maar ook ons gesondheid.

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Só doen jy aansoek vir ’n dranklisensie
Sanette Viljoen     Die aansoek word ingedien ingevolge Artikel 19 van die Drankwet, nr. 27 van 1989, en die voorgeskrewe vorm (Vorm 1) moet daarvoor gebruik word. Hierdie vorm moet in drievoud ingedien word. Die volgende moet in die aansoek ingesluit word: Bewys van adres; Finansiële state indien dit ’n bestaande besigheid is; Plan […]
Wat moét my prokureur vertroulik hou?
Vraag: “Ek het ‘n afspraak met ‘n prokureur om regsadvies te kry oor my besigheid en die strukturering daarvan. Ek sal sekere vertroulike inligting rakende my besigheid met hom moet deel. Val dit onder die beskerming van prokureur-kliënt privilegie?”   Antwoord: Dit is belangrik om te verstaan dat vertroulikheid en prokureur-kliënt- of regsprofessionele privilegie twee […]
Oortyd
  Die spesifieke artikels van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (Nr. 75 van 1997) wat handel oor oortyd is slegs van toepassing op diegene wat onder die inkomstedrempel verdien. Die inkomstedrempel word deur die minister bepaal en afgekondig. Tans is die inkomste-drempel R205 433,33 per jaar of ongeveer R17 120,00 per maand. Indien jy onder die inkomstedrempel […]
1 2 3 38