Deur Sanette Viljoen
Dit gebeur dikwels dat haweloses buite inkopiesentrums staan en bedel. Hierdie haweloses is ook geneig om kliënte te steur en selfs te intimideer. Die winkeleienaars verloor ook klandisie as gevolg hiervan. Wat staan die eienaar van ʼn sentrum of winkel te doen? Mag hy hierdie bedelaars verbied om sy sentrum te betree of buite sy winkel te staan?
Daar is ʼn hofsaak wat moontlik kan help met hierdie probleem: Victoria & Alfred Waterfront (PTY) Ltd and Another v Police Commissioner of the Western Cape and Others (4543/03) [2003] ZAWCHC 75; [2004] 1 All SA 579 (C).
Die feite van hierdie saak is soos volg: Die Waterfront het ʼn tussentydse bevel gekry teen twee hawelose mense ingevolge waarvan hierdie twee haweloses verbied was om die Waterfront se perseel binne te gaan, om besoekers aan die Waterfront te hinder en skade te berokken, om enige werker van die Waterfront aan te rand, te intimideer of te dreig en daar is verder gelas dat indien hulle nie aan hierdie bevel gehoor gee nie kan die hof op dieselfde stukke genader word om ʼn bevel van minagting van die hof te maak. Die oortreders kan dan dienooreenkomstig beboet word of selfs tronkstraf opgelê word.
Die eienaars van die Waterfront se klagtes oor die twee haweloses was van ʼn ernstige aard en nie ongegrond nie. Dit was duidelik vir die hof dat in die twee jaar wat hierdie aansoek voorafgegaan het, hierdie twee haweloses baie onvanpaste dade gepleeg het.
Op die keerdatum waarop die bogenoemde tussentydse bevel ʼn finale bevel gemaak ou word, het die Waterfront gevra dat die haweloses te verbied word om by die Waterfront te bedel. Die hof het hierdie versoek geweier en aangevoer dat dit sal neerkom op diskriminasie op grond van die feit dat hulle arm is. Die hof voer verder aan dat bedelary lei tot spanning tussen mense se reg op lewe enersyds en die reg op eiendom andersyds. Volgens die hof is ʼn persoon se reg op lewe en menswaardigheid die belangrikste van alle menseregte en sal sakelui se reg op eiendom swig teen hierdie regte. Diskriminasie ten opsigte van armoede sal verder lei tot diskriminasie ten opsigte van ras, wat ook weer deur die Grondwet verbied word.
Die Waterfront se saak was daarop gebaseer dat hulle as eienaars van die Waterfront die reg gehad het om hierdie twee moeilikheidmakers hulle perseel te verbied. Die Grondwet verleen ook beskerming vir die regte van die eienaar van vaste eiendom. Hierop het die regter aangevoer dat die Waterfront ʼn gebied is wat deur die publiek besoek word ongeag of hulle ten doel het om daar besigheid te doen al dan nie. As gevolg van die grootte en die ligging van die gebied is die Waterfront inderwaarheid ʼn voorstad van Kaapstad en om hierdie rede heeltemal verskillend van ʼn gewone klein winkeltjie of restourant. Indien mense verbied sou word om hierdie perseel te betree, sal dit daarop neerkom inbreuk gemaak word op daardie mense se reg op vryheid van beweging.
Die hof voer egter aan dat die vernaamste oogmerk van die aansoek nie is om die twee haweloses te verbied om die perseel te betree nie, maar om hulle te verbied om onregmatig op te tree op die eiendom van die Waterfront en daarom voel die hof dat die eienaar daarop geregtig is om ’n bevel te vra dat die haweloses nie onregmatig mag optree nie. Sodanige bevel teen onregmatigheid kan gegee word sonder om die regte van die bedelaars aan te tas. Hulle word dus verbied om op te tree op maniere wat die regte van die eienaars aantas. Hiervolgens verleen die hof hulp aan die winkeleienaars en maak ʼn bevel met die volgende bepalings:
Daar is dus ’n remedie vir winkeleienaars om die hof te nader vir dieselfde regshulp as wat gegee is in die bogenoemde hofsaak.
Oops! We could not locate your form.