Deur Sanette Viljoen
Een van die eerste dinge wat ouers oorweeg sodra hulle van die swangerskap uitvind, is wat die kind se naam gaan wees. Vir baie ouers is dit egter nie net die naam wat waarde dra nie, maar ook die kind se van. Wat sê die Wet hieroor?
Die ouers moet binne 30 dae vanaf die kind se geboorte, sy/haar geboorte en naam by die Departement van Binnelandse Sake registreer. Hierdie registrasie vind plaas kragtens die Wet op Registrasie van Geboortes en Sterftes 51 van 1992. Hierdie Wet onderskei tussen die registrasie van ’n kind se van in die geval van ’n kind wat binne die huwelik gebore is en ’n kind wat buite die huwelik gebore is.
Kragtens artikel 9(2) van hierdie Wet word kinders wat binne die huwelik gebore is gewoonlik met die vader se van, as die sogenaamde huweliksvan, geregistreer. In die meeste gevalle het die moeder die vader se van met die huwelik aangeneem. Dit is wel moontlik vir so ’n kind om met albei ouers se vanne, met ʼn koppelteken verbind, geregistreer te word indien beide ouers daartoe toestem.
Kragtens artikel 10 van die Wet word kinders wat buite die huwelik gebore is slegs met die moeder se van geregistreer, tensy die vader skriftelik ouerskap van die kind erken en beide ouers daartoe toestem dat die kind met die vader se van geregistreer word. In hierdie geval word ’n gekoppelde van met beide ouers se van nie toegelaat nie.
In die geval waar ’n kind kragtens artikel 10 van die Wet met die moeder se van geregistreer word, is dit wel moontlik om op ’n latere stadium die kind se van te wysig na die vader se van. Dit sal dan gedoen word kragtens artikel 11, waarvolgens die biologiese ouers van die kind ongetroud was ten tyde van die kind se geboorte, maar op ’n latere stadium wel met mekaar trou.
Soortgelyk kan ’n minderjarige kind se van kragtens artikel 25 gewysig word om dieselfde as sy/haar moeder s’n te wees indien die moeder se van vir enige rede verander of indien die kind aanvanklik met sy/haar ongetroude vader se van geregistreer was en die moeder besluit om dit daarna na haar eie van te verander. In hierdie omstandighede raak dit belangrik om in ag te neem dat die kind se van in geen opsig ’n invloed het op die ouerlike regte en verantwoordelikhede van ongetroude vaders of moeders met betrekking tot hulle kind nie. Die feit dat die kind se van verander het, beteken nie dat die ouer mag ophou onderhoud betaal nie.
Oops! We could not locate your form.